75 uur sonder water

Niene Saayman wys waar die lekkasie Maandag gevind is.  Foto Angelique Erasmus

Inwoners met trollies en emmers waarin water Vrydag vir die tehuis geneem is. Voor is Rod Park saam met van links Niene Saayman, Helen Boulle en Dot Lycey. Foto verskaf

Deur Angelique Erasmus
DIE sowat 100 inwoners van Tuishuis, ’n ouetehuis op Oudtshoorn, was die naweek sowat 75 uur lank sonder lopende water – van Vrydag 15:00 tot Maandag 18:00 – weens ’n lekplek buite die gebou.

Die lekplek is uiteindelik deur ’n lekkasiespesialis opgespoor. Sy hulp is deur die munisipaliteit ingeroep nadat verskeie probeerslae binne die gebou om die lekplek op te spoor, vergeefs was.
Terwyl daar na die lekplek gesoek is, het Oudts­hoorn se inwoners egter ingespring en derduisende liter water oor die naweek na Tuishuis gebring.

Die waterprobleem het vermoedelik al vroeër as Vrydagmiddag begin toe ’n gedeelte onder die trap tekens van vogtigheid getoon het. Daar is aanvanklik vermoed dat een van die waterpype onder die tehuis dalk lek.

Die tehuis se nutsman, George Benz, het egter vergeefs na die probleem gesoek, en begin om die munisipale stopkraan toe te draai, en soms weer oop te draai sodat inwoners water kon tap.

Volgens ’n inwoner, Niene Saayman, loop die water vanaf die hooflyn na tenke op die dak wat drukking in die pype verseker. “Vrydagmiddag laat het een van die watertenke se kleppe egter gebreek, en moes ons die stopkraan toedraai.”

Inwoners het hierna emmers op trollies gelaai en na ’n motorhawe langs die tehuis gestap om water te gaan tap.

Saayman het die munisipaliteit ontbied en hulle was binne 30 minute by Tuishuis. “Hulle het belowe om Saterdagoggend vir ons ’n tenkwa met water te stuur. Saterdag 09:00 het die wa buite die tehuis gestop en kon ons water indra.”

Solidariteit Helpende Hand het op sy beurt reeds Vrydag ingespring en water na die tehuis gebring. AfriForum het Saterdag by die groep aangesluit, en help ver­seker dat die bejaarde inwoners genoeg drink­water het.

Die munisipaliteit het intussen die hulp van ’n lekkasiespesialis van George ingeroep, en die lekkasie is ná ’n lang soektog buite die gebou opgespoor en Maandagmiddag herstel.

Inwoners was vandeesweek vol lof vir almal – individue, organisasies en die munisipaliteit – vir al die hulp die naweek.

Log in with your credentials

Forgot your details?