7 klagtes, 2 klaagsters

Gemeentelede huil saam met pastoor in hof

Deur Angelique Erasmus
’n 58-jarige pastoor van Oudtshoorn wat aangekla word van verkragting en on­sedelike aanranding het Maandag be­gin huil nadat die hof borgtog van R10 000 aan hom toegestaan het.

Van sy gemeentelede wat in die hof was om hom te ondersteun, het saam met die beskuldigde gehuil.

Die pastoor, wie se naam nie genoem mag word voordat hy gepleit het nie, staan tereg op sewe aanklagte – drie aan­klag­te van ver­kragting en vier van on­se­delike aanranding.

Twee vroue het verklarings by die po­li­sie ingedien. Albei was volgens die ver­klarings minderjarig toe die voorvalle plaasgevind het.

Die pastoor is verlede week in hegtenis geneem en het verlede Woensdag die eers­te keer in die hof verskyn in verband met drie aanklagte van onsedelike aanranding en twee van verkragting – wat na bewering in September 2003 oor ’n tydperk van twee weke plaasgevind het toe die eerste klaagster slegs 13 jaar oud was.

’n Tweede klaagster het daarna ’n ver­klaring by die polisie afgelê het waarin sy beweer dat sy ook deur die pastoor verkrag is.

Sy was na bewering vier of vyf jaar oud toe van die voorvalle plaasgevind het.

Die staatsaanklaer het beslis dat die twee sake saam hanteer sal word.

Die pastoor het in sy borgaansoek aangedui dat hy in staat was om R5 000 vir borgtog te betaal, maar landdros Johan

Steynberg het gesê dat die gemeentelede wat hom kom ondersteun het, waarskynlik sal kan bydra tot sy borgtog van R10 000.

Sy borgvoorwaardes bepaal dat hy nie met die klaagsters mag kontak maak nie asook nie met twee ander persone wat ver­klarings afgelê het nie.

Die saak is tot 6 Desember uitgestel wanneer die pastoor sal pleit.

Hof hoor oor verklarings van vroue

Die ondersoekbeampte in die saak, ao Fanie le Roux, het tydens sy getuienis voor die hof gesê die voorvalle het volgens die klaagsters se verklarings by die pastoor se huis, die kerk en sy kantoor by sy vorige werk in 2003, 2013 en 2015 plaasgevind.

Le Roux was tydens sy getuienis sigbaar onsteld oor die inhoud van die ver­kla­rings. Die publiek moes tydens sy ge­tuienis – wat soms in detail oor die verkla­rings van die klaagsters gehandel het, deur die landdros gemaan word om stilte in die hof te handhaaf.

Die tweede klaagster beweer in haar verklaring die pastoor het haar op ’n gereelde basis, veral Saterdae, betas wanneer sy vrou by die haarsalon was.

Die verdagte het volgens die klaagster haar soms na sy kamer geneem, waar “blou films” op die TV-skerm sou speel.
Le Roux het ook gesê die twee klaagsters beweer dat die pastoor hulle op verskillende stadiums R800 en R1 050 betaal het om die klagtes te laat staan en uit die dorp te verdwyn.

Die beskuldigde het egter aan die hof gesê hy het die geld aan die klaagsters gegee omdat hulle vir hulp gevra het.

Geen wapens in tuin gevind.

Le Roux het gesê die polisie het inlig­ting ontvang dat vuurwapens in die verdagte se tuin begrawe is, maar dat geen vuurwapens daar opgespoor is nie.

Daar is egter op die verdagte se rekenaar en hardeskyf beslag gelê.

Die verdagte se regsverteenwoordiger is Christo van der Bergh en die staatsaanklaer Jacolize Joubert.

Log in with your credentials

Forgot your details?