24 jaar vir verkragting van bejaarde in eie huis

Deur Garnett Wicomb
OM ’n bejaarde vrou in haar eie huis waar sy veilig behoort te wees, te verkrag, is ’n walglike daad en kan nie geduld kan word nie.

So het streeklanddros Daniel Boks verlede week met die vonnisoplegging van ’n man van Bongolethu gesê wat ’n 61-jarige vrou in haar eie huis verkrag en beroof het.

Die 41-jarige Johannes Marenene is skuldig bevind op klagtes van verkrag­ting, roof met verswarende omstan­dig­hede, diefstal en om iemand te dwing om hom te masturbeer.

Marenene het die oggend van 3 Maart vanjaar by die woning van die 61-jarige vrou aangekom met die voorwendsel dat hy iets aan haar wil verkoop. Sy was besig om haar vir kerk gereed te kry en haar kospotte was al op die stoof. Sy het hom geken en hom egter laat inkom toe hy vir water vra.

Terwyl sy by die stoof gestaan het, het Marenene haar van agter om die nek gegryp, gewurg en haar een arm op die warm stoof gedruk.

Daarna het hy ’n vuurwapen, ’n mes en ’n kort gholfstok uit ’n sak gehaal en die vrou na haar slaapkamer gedwing.

Hy het haar gedwing om hom te masturbeer en haar daarna verkrag.

Hy het toe haar tablet en geld gevat, en haar gewaarsku om vir niemand daarvan te vertel nie.

Die vrou het met haar getuienis hofgangers in trane gehad toe sy vertel het dat sy by Marenene gepleit het om haar asseblief nie seer te maak nie.

Sy het Maraenene geken omdat hy in dieselfde straat gewoon het en sy hom op ’n keer gevra het om ’n boom vir haar te plant.

Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, het die hof versoek om Marenene permanent uit die samelewing te neem en dat die hof ’n duidelike boodskap moet uitstuur.

Die landdros het in sy uitspraak Marenene se getuienis verwerp en sy optrede as walglik beskryf.

Hy het ten spyte van verdoemende getuieis teen hom net skuldig gepleit op die klagte van diefstal waarmee hy homself op die toneel plaas.

Dr Milton Groenewald se getuienis dat hy duidelike tekens van gedwonge penetrasie waargeneem het, staaf die vrou se getuienis dat sy verkrag is. Sy het ook onmiddellik na die voorval in haar nagklere na bure oorkant die pad gehardloop om van haar nagmerrie te vertel.

Die landdros het die klagtes van verkragting en masturbasie vir vonnisdoeleindes saamgeneem en Marenene daarvoor tot 20 jaar gevangenisstraf gevonnis.

Hy is tot agt jaar gevonnis vir roof met verswarende omstandighede en ses jaar vir diefstal.

Log in with your credentials

Forgot your details?