19 slange in twee weke gevang

Bo: Oudtshoorn se slangvanger, Mornay Thysse, verwyder hier ’n Kaapse Kobra, ook bekend as geelslang, uit die enjin van ’n motor op Oudtshoorn.  Foto verskaf
Onder: Dié jong Kaapse Kobra van sowat een meter lank is Sondag deur Thysse uit die sitkamer van Jaco en Angelique Erasmus se huis op Rooiheuwel net buite Oudtshoorn verwyder.  Foto: Angelique Erasmus
Heelonder: Twee ander giftige slange wat in die Klein Karoo te vind is, is die boomslang (tweede van onder) en die pofadder (onder). Foto: Rian Stander (Die Hoorn Argief)

Deur Angelique Erasmus
MET die somer hier is dit weer slangtyd in die Klein Karoo, met slange wat na hul winterslaap nader aan huise beweeg in hul soektog na kos en water.

Volgens Mornay Thysse, die Oudtshoorn Munisipaliteit se bekende slangvanger en brandweerman, het hy die afgelope twee weke reeds 19 slange gevang. Die meeste was pofadders en Kaapse kobras.

Hier is wenke om jouself, jou gesin en geliefde troeteldiere veilig te hou tydens die somermaande:
• Hou erwe vry van enige rommel, veral tuinrommel wat rotte en ander diere lok en kos vir slange is.

• Moet nooit probeer om self die slang te vang nie, maar hou dit eerder dop en kontak die munisipale noodnommer: 044 203 7800.

“Sowat vyf meter weg van die slang behoort ’n veilige afstand te wees,” sê Thysse

Hy raai ook aan dat kinders en diere van die slang weggehou moet word.

• Kry onmiddellik mediese hulp by jou naaste dokter of hospitaal indien die slang iemand pik.

“Probeer indien moontlik ’n foto van die slang neem,” sê Thysse

Die beskrywing van die slang is in so ’n geval belangrik, omdat dit sal verseker dat dokters die korrekte teengif toedien.

Thysse sê omdat die streek gebuk gaan onder erge droogtetoestande is dit nie vreemd dat slange en ander diere nader aan huise beweeg in hul soeke na water en kos nie.

Thysse het ook onlangs ’n facebook blad gestig waarop inligting rondom slange in die area, en slange wat gevang word gereeld gepos sal word.

Sluit gerus aan by die Klein Karoo Snakes bladsy.

Log in with your credentials

Forgot your details?