Hoop vir watersuiweringsaanleg

Aansoek vir befondsing ingedien

Deur Liesel le Roux
DAAR is uiteindelik hoop vir ’n watersuiwerings­aanleg vir Oudtshoorn.

Die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit het Maan­dag op navraag van Die Hoorn aangedui dat die eerste stappe geneem is om so ’n aanleg op Oudts­hoorn te vestig deur ’n besigheidsplan vir befondsing daarvoor by die Departement Waterwese en Sa­nitasie in te dien.

Chris Koch, direkteur tegniese dienste by die munisipaliteit, het einde Junie by die maandelikse raadsvergadering aangedui dat ’n watersuiweringsaanleg vir Oudtshoorn en ’n aansoek vir befondsing prioriteit moet geniet.

“Daar kan nie langer mee gewag word nie,” was sy woorde.

Troebel water is sedert Januarie 2017 inwoners se voorland nadat ’n verwoestende brand in die Raubenheimerdam se op­vangsgebied die plan­tegroei vernietig het. Dié plante dien as ’n “sif” vir grond en onsuiwerhede wanneer dit reën en die water afloop na die dam toe.

Die lae damvlak (die dam is tans slegs 30,96% vol) en wind wat afgesakte organiese materiaal weer met die water laat meng, vererger tans die voorkoms van die water, sê Ntobeko Mang­qwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit.

“Die groot aantal pypbarste die afgelope tyd in die dorp veroorsaak voorts dat die water by party plekke baie meer modderig is as die water wat van die dam af kom. Nadat gebreekte pype herstel is, word die pype wel skoongespoel om die modder uit die stelsel te probeer kry.”

Mangqwengqwe sê hoewel die water wat vanaf die Raubenheimerdam af kom geen E.coli bevat nie, moet inwoners dit liewers as gevolg van die troebelheid kook voordat dit gedrink word.

“Troebelheid maak chlorinering minder effektief.”

Be the first to comment on "Hoop vir watersuiweringsaanleg"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*