Donker waterprentjie geskets

Deur Garnett Wicomb
DIE munisipale bestuurder van Oudtshoorn, Allen Paulse, het gister tydens ’n waterkrisis-komiteevergadering weer die donker prentjie van die dorp se huidige watertekort geskets.

Volgens hom is tussen R23 miljoen en R30 miljoen nodig om die noodpypleiding vanaf die Blossoms-diepwaterboorgat na Oudtshoorn aan te lê.

’n Aansoek vir dié fondse is by die Wes-Kaapse regeringsrampfonds ingedien asook by die nasionale regering.

”Indien ons nie suksesvol is nie, sal die munisipaliteit van sy eie fondse moet gebruik en ander dinge moet stopsit,” het Paulse gewaarsku.

“Dit sluit in munisipale swembaddens wat gedurende die komende somermaande gesluit sal moet bly.”
“Sportvelde kan ook nie met drinkwater besproei word nie omdat dit onmenslik en onder omstandighede eintlik krimineel sal wees,” het Pausle bygevoeg.

Hy het ’n ernstige beroep op raadslede gedoen om die boodskap so in die gemeenskap te versprei.

• Die Oudtshoorn Munisipaliteit het tydens ’n spesiale raadsvergadering wat ook gister plaasgevind het, sy eerste aanvullende begroting vir 2018/19 eenparig goedgekeur.

Projekte waarvoor die fondse vanaf die begro­ting vir 2017/18 oorgedra is, is die opgradering van die hangbrug in Kerkstraat teen ’n koste van R73678, die hoof-rioolpypvervangings ten bedrae van R3,54 miljoen en die Raubenheimerdam-inlaattoring teen ’n koste van R1,1 miljoen. Dit is ’n totale bedrag van R4,71miljoen.

Ná die aanpassings beloop die 2018/19 kapitaalbegroting nou R63,9 miljoen teenoor die aanvanklike begroting van R58,7mil-joen.

Operasionale inkomste beloop R609,34 miljoen en die totale uitgawes R654,7 miljoen teenoor die oorspronkilke begroting van R655,2mil­joen. Die totale operasionele uitgawe vir 2018/19 se eerste aanvullende begroting verminder met R500000 vanweë fondse vir die diereskut wat geskuif is.

Log in with your credentials

Forgot your details?