Ou Mazda kry 2de asem

Jean du Plessis van Oudtshoorn en sy Tarzan-karretjie tydens ’n Nuts & Bolts Rally.
Foto verskaf

Deur Liesel le Roux
WANNEER Jean du Plessis van Oudtshoorn oor sy donkergroen 1976 Mazda 323 praat, is dit duidelik dat dié motor waarmee hy al aan verskeie Nuts & Bolts-tydrenne deelgeneem het, hom na aan die hart lê.

Du Plessis, wat ’n onderwyser by Laerskool Van Reede was voordat hy afgetree het, vertel dat hy die Mazda vier jaar gelede die eerste keer in Ceres gesien het.

“Ek het drie jare na mekaar aan ’n bergfietswedren op Ceres deelgeneem en elke jaar die Mazda daar onder ’n boom sien staan; later was die gras al so hoog soos die deure.

“Die derde jaar het ek die eienaars genader en die Mazda gekoop.”

Hy het begin om die voertuig te restoureer. “Die wonderlikste was: toe dit ’n nuwe battery en petrol in het en ek draai die sleutel, toe draai die enjin!”

Du Plessis het met sy Mazda 323 by die Nuts & Bolts Rally betrokke geraak, wat jaarliks ’n aantal tyd­renne aanbied waarmee terselfdertyd geld ingesamel word vir testikulêre kanker en sedert verlede jaar ook om boere in die droogte by te staan. Die voorwaarde is egter dat jou voertuig ouer as 20 jaar moet wees en minder as R20 000 moet kos. Met hierdie voer­tuie durf hulle van Suid-Afrika se moeilikste paaie aan.

“Dit is lekker en ons doen dit vir ’n goeie doel. Daar word geen wins gemaak nie,” vertel hy.

Du Plessis se Mazda het ook ’n naam, soos baie van die voertuie wat aan die tydrenne deelneem.

“Tarzan-karretjie” staan groot bokant die vooruit geskryf. Omdat die voertuig se petrol­tenk erg geroes is, moes hy tydelik ’n ander plan maak en ’n petroltenk op die dak aanbring met ’n pyp wat brandstof voorsien. ’n Nuwe petroltenk vir dié Tar­zan-karretjie word tans gebou.
Steun dié fondsinsameling

• Plessis vra dat die publiek hom ondersteun met sy fondsinsameling vir die volgende Nuts & Bolts Rally wat van 19 tot 24 Maart plaasvind.

Die roete, wat gedeeltelik deur Du Plessis beplan is, bly egter geheim. Al wat be­kend is, is dat dit op Prins Albert begin en op Stilbaai eindig.

Drie ander Oudtshoorniete, die sakemanne Deon Bosman, Isidore Langenhoven en Blaine de Villiers, gaan moontlik ook deelneem.

“Ons gaan met hierdie rally ook ’n landelike skool in die Oudtshoorn-omgewing onder­steun,” sê Du Plessis.

Borge wat Du Plessis wil steun, kan hom kontak by sel 079 421 5429. Hy lewer ook gryswater af en skenk die opbrengs vir Nuts & Bolts. Donasies is belastingaftrekbaar.

Log in with your credentials

Forgot your details?