Statistiek oor paaie en water

Deur Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux

Ons deel graag die week interessante statistiek wat ons die afgelope dae ontvang het oor twee aktuele onderwerpe in die Wes-Kaap – eerstens die situasie op die provinsie se paaie die afgelope langnaweek en tweedens die situasie ten opsigte van water in die Wes-Kaap.

Beide hierdie onderwerpe is belang­-rik en boonop ook tans ’n bron van kommer.

Wat die provinsie se paaie betref:
Dit was nie net in die Oudtshoorn-omgewing ’n donker naweek nie, maar ook in die res van die Wes-Kaap. ’n Voorlopige verslag van die Wes-Kaapse Provinsiale Verkeersdienste dui aan dat nege mense oor die langnaweek op die provinsie se paaie gesterf het.

26 motoriste is in hegtenis geneem vir beweerde dronkbestuur – sewe in George, ses in Worcester, drie in Caledon, drie in Brackenfell; twee in Mosselbaai, een in Beaufort-Wes, een in Somerset-Wes, een in Swellendam, een in Knysna en een in Vredendal.

Twee bestuurders is ook in Swellendam vasgetrek vir ander oortredings – een vir ’n oorlaaide voertuig en een vir die besit van dwelms.

Asemtoetse is op 2 442 bestuurders by 24 “alkohol-blits-padblokkades” oor die provinsie uitgevoer. Die hoogste lesing was in die Caledon-omge­wing en was vier keer oor die wettige limiet van 0,24 mg/1 000 ml.

Daar was voorts 74 spoedoortre­-dings met 244 boetes ter waarde van R339 400 wat vir ’n wye verskeidenheid oortredings uitgereik is.

Die hoogste snelheid wat gemeet is, was 158 km/h in ’n 120 km/h-sone by Beaufort-Wes, en 116 km/h in ’n 100 km/h-sone by Laingsburg.

Dus, ten spyte van die twee noodlottige ongelukke op die N12 tussen Oudtshoorn en De Rust waarin vier mense gesterf het, was daar nie ander padoortre­dings waarvoor mense vasgetrek is, in ons gebied nie.

Wat die provinsie se water betref:
Volgens die jongste inligting wat bekend gemaak is deur die Wes-Kaapse minister van plaaslike rege­ring, omgewingsake en ontwikke­- lings­­beplanning, Anton Bredell, staan damme in die Wes-Kaap nou gemiddeld op 35,8%.

In die ooreenstemmende tydperk verlede jaar was die gemiddelde damvlak in die Wes-Kaap 62%.
Bredell het ’n beroep op alle watergebruikers gedoen om hul watergebruik te verminder.

Op Oudtshoorn is inwoners in ’n veel beter situasie met die vlak van die Raubenheimerdam wat na die reën van die afgelope week nou op 60% staan, nadat dit kort gelede nog op 49% gestaan het.

Maar dan moet ons terselfdertyd onthou dat die baie warm Karoosomer voorlê en dit boonop in baie dele van die Klein Karoo baie droog is.

Bredell het heel tereg gesê dat daar groot kommer is oor die watervlakke van damme met die somer voor die deur. Hy het ook gesê die provinsie finaliseer tans optimale waterbeper­-kingsvlakke vir elke dorp in die pro­vinsie.

Elke inwoner van die Wes-Kaap behoort tans water spaarsaam te gebruik en toe te sien dat water onder geen omstandighede gemors word nie.

Log in with your credentials

Forgot your details?