My oë het oopgegaan…

Deur Liesel le Roux

Op die kassie sien ons hofsake, en dit lyk opwindend en glansryk, maar in werklikheid is dit ’n ingewikkelde wêreld, met terminologie wat deur ’n leek soos myself dikwels eers opgesoek moet word.

Ek het soos baie ander my mening hier van die kant ingegooi oor hoe­kom ’n regter of landdros iets nie so moes gedoen het nie, of hoe aanklaers of prokureurs moes optree, maar sedert ek deur Die Hoorn hofsake begin bywoon het, het ek besef dit is baie meer kompleks as wat ons dink.

Geen besluit word ligtelik deur ’n landdros geneem nie – selfs borgaansoeke duur soms langer as ’n dag. Dit is ook ooglopend dat goeie regshulp beslis tot jou voordeel is.

Die grootste skok vir my was egter nie die fyn spel tussen partye nie, maar wel die hoeveelheid sake wat el­ke dag in ons dorpie voorkom. Vir my was Oudtshoorn ’n veilige hawe, ’n plek waar ek my kinders rustig kon grootmaak en weet hulle kan nog kind wees. My oë het egter oopgegaan.

Daagliks kom daar sowat 20 sake op elke hof se hofrol voor. Tus­sen daardie daaglikse sake is daar inbrake, diefstalle, dwelmsake (handelaars en persone wat met dwelms gevang word), verkragting van minderjariges, moorde en onderhoudsa­ke. Party beskuldigdes is in die tronk, ander is buite, sommige doen aansoek vir borgtog en ander laat vaar die aansoek, En tussen alles deur besef ek: Ons moet wakker word.

Grootmense, oumense, kin­ders, ouers en enkelopers. Maak julle oë oop, wees paraat.

Oudtshoorn is nie so veilig soos baie dink nie. In een week het ek vyf verkragtingsake namens ons koerant gevolg. Die verklarings wat in die hof voorgelees is, het gesorg vir sla­pelose nagte, woede, ongeloof… In drie van die vyf sake is minderjarige kinders na bewering verkrag, in een is ’n minderjarige kind na bewering die ver-kragter, in die vyfde een is ’n 19- jarige vrou na bewering deur ’n 35-jarige verkrag. En hierdie sake het in net een hof voorkom. Hoeveel was daar nie in die ander howe nie!

Pas julle kinders op, weet waar hulle is. Ons lewe in ’n nuwe wêreld waar gevaar nie net in donker stegies in groot stede wegkruip nie…
– Angelique Erasmus

Log in with your credentials

Forgot your details?