Net een motto nou: spaar water

Deur Liesel le Roux

Met die spreekwoordelike Dag Zero vier maande weg vir Oudtshoorn, het die tyd nou aangebreek dat inwoners begin leef soos mense in ’n dorp met die swaard van droogte oor die kop.

Diegene wat spog dat hulle steeds grasperke natlei, hul motors skelm skoonspuit of daagliks in groot baddens water bad, moet wak­ker word en besef wat hulle deur hul optrede doen.

Almal mag nou net een motto hê, en dit is om water te spaar.

Die droogte wat ons hier in die Klein Karoo ervaar, is nie uniek nie.

Lees maar net die volgende berig van die Amerikaanse nuusdiens CNN oor die huidige somer in die noordelike halfrond:
Dodelike brande het die somer dele van die noordelike halfrond verskroei – van Kalifornië tot die Arktiese Swede tot in Griekeland aan die sonnige Middellandse See. Die droogte in Europa het die grond verdor, terwyl mense in Japan en Korea sterf in temperature wat rekords breek.

Klimaatsverandering is hier en raak die hele wêreld, sê wetenskaplikes – nie net die ysbere of klein eilande wat kwesbaar is vir stygende seevlakke nie, en inligting toon dat dit baie erger gaan word.

119 mense het die somer in Japan in ’n hittegolf gesterf, met 29 mense wat in Suid-Korea dood is. 91 mense het in Griekeland in veldbrande gesterf, terwyl minstens agt in brande in Kalifornië dood is. In Spanje en Portugal het temperature rekordvlakke bereik met drie mense wat in ’n hittegolf in Spanje dood is.

Dodelike hittegolwe sal in die komende de­kades meer gereeld voorkom en op meer plekke op die planeet, volgens ’n studie gepubliseer in die tydskrif Nature Climate Change. Uiterste hitte word be­skou as een van die mees direkte gevolge van mensgemaakte klimaatsverandering.

Klimaatsverandering is permanent en ook in die Klein Karoo sal ons moet nuut dink en doen om in dié nuwe omstandighede te leef.

Diegene wat die gewilde speletjie wil speel om ander te begin blameer wanneer dinge skeefloop, moet dié keer eerder swyg. Dit is nou eerder ’n tyd om saam te staan en verant­woor­delik te begin leef. Die eerste ding wat elkeen kan doen, is om ’n le­wens­wyse aan te leer waardeur ons water spaar.

Die dae van onverskillig leef en water mors is vir goed verby.

Log in with your credentials

Forgot your details?