Laat ons dínk voor ons bestuur

Deur Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux

Dit was ’n donker naweek met vier mense wat in twee botsings op die R328 tussen Oudtshoorn en Mosselbaai gesterf het.

Ons innige simpatie aan die naasbe­staandes van die oorledenes in beide botsings. Ons weet daar is trauma en hartseer en rou in baie huise na dié twee voorvalle.

Wat die laaste week op die paaie in en om Oudtshoorn gebeur het, moet almal wat in die dorp woon – en ook elders in die streek – tot nadenke én kommer stem.

Want daar was ook ander voorvalle die week wat tot skade of beserings gelei het. Soos ’n motor wat Saterdag laat­aand deur ’n tuinmuur in Voor­trekkerweg gebars het; nie vêr nie van waar daar verlede jaar ’n baie ernstige ongeluk was toe iemand ook in ’n tuin­muur vasgejaag het. En Maandag is ’n fietsryer op ’n grondpad buite die dorp raakgery, wat weer die veiligheid van die baie fietsryers in en om Oudts­hoorn in die kollig geplaas het.

Dit is belangrik dat ons moet dink en praat oor wat ongelukke in en om ons dorpe veroorsaak en wat ons as inwoners en voertuigbestuurders kan doen om die strate in dor­pe en die paaie tussen dorpe en ste­de veiliger te maak vir almal.

Om altyd oplettend te wees en seker te maak ons veroorsaak nie ’n gevaarsituasie – vir onsself maar ook vir ander mense – nie, is seker een van die belangrikste eienskappe van ’n veilige bestuurder. Op Engels word dit raakgesê: Better safe than sorry.

Jaagduiwels veroorsaak gevaar vir ander. Mense wat drink en bestuur veroorsaak gevaar vir ander. Oormoeë bestuurders veroorsaak gevaar vir ander.

Laat ons ook dínk voor ons bestuur.

Log in with your credentials

Forgot your details?