Briewe

Bemark en skep so werk

Geen produk verkoop as dit nie bemark word nie. Hoe beter die bemarking, hoe
beter die verkope.

Coca Cola het in elke dorpie in die wêreld met meer as 1 000 inwoners ’n advertensie. Die resultate? Kyk na hul verkope – astronomies!

Wat het ons in Oudtshoorn? Tabak, saad, vrugte, druiwe, skape, bokke, liquorice, olywe, volstruisvelle, volstruis­vere, volstruisvleis.

Wat van toerisme?

Ons het ’n gans wat goue eiers kan lê met die Kango Grotte, die Krokodil­plaas, volstruis­-skouplase, die CP Nel Museum, die Swartbergpas, Meirings­poort, pragtige gastehuise, hotelle, ka­-ravaanparke, van die beste restaurante in die land.

Verwerk ons en verpak ons hierdie produkte? Wie weet daarvan?
Kry ons enterpreneurs wat besighede hier kom vestig? Ongelukkig is die ant­woord nee. Hoekom? Dis ’n staatsgeheim; niemand weet daarvan nie.

Nou ploeter ons maar so aan met ’n werkloosheidsyfer van 40% en verkoop al hierdie produkte aan diegene wat hulle verwerk bemark en verkoop, maar nie in Oudtshoorn nie.

Kom ons vestig ’n bemarkingsafde­-ling met die beste opgeleide en gemotiveerde personeel, om Oudtshoorn te bemark aan moontlike enterpreneurs, sakemense, die publiek, toeriste.

Kom ons maak almal in Suid-Afrika bewus van Oudtshoorn. Kom ons betrek die polisie, die munisipaliteit, die Besigheidskamer, Agri, die KKNK, Toerisme en alle moontlike deelnemers.

Kom ons bemark. Kom ons kry sakemanne om fabrieke, vervaardigings­aanlegte, ens hier te kom vestig.
As die Blossoms-pyplyn voltooi is, kan ons ook spog met volhoubare watervoorsiening.

Kom ons skep werk! Kom ons vestig ’n gesamentlike bemarkingsaksie.
– Pieter Retief, Oudtshoorn

Waterbesparing is belangrik

Mag ek sê dat waterbesparing vir my belangrik is as (1) my voertuig altyd blinkskoon moet wees in plaas van om die bakwerk af te stof en die ruite te was; (2) ek en my gesin daagliks bad of stort in plaas van meermale met min water te was, en (3) my huis nie ’n opvangtenk het nie?

Het die munisipaliteit al bepaal wat die gemiddelde daaglikse waterverbruik per persoon is in al die koshuise en ook by die militêre en polisie-opleidingsinstansies?

Ek is oortuig daarvan dat waterverbruik by van die plekke skokkend is.

Dit kan reggestel word deur die regte ingrype.

Van nou af ry ek altyd met ’n selfoon by my om diegene af te neem wat tuin­slange gebruik om onder meer plante op sypaadjies nat te maak.

Hulle besef nog nie dat water lewe is nie.

Waterbesparing móét ’n lewenswyse vir almal wees.
– Inwoner, Oudtshoorn