Wenke vir jou troudag-foto’s

Deur Angelique Erasmus
DIE groot dag neem maande lank se beplanning net om in minder as 24 uur verby te vlieg. Daarom is dit van uiterste belang dat’n goeie fotograaf elke emosie van dié dag vir ewig kan vasvang.

Volg gerus dié wenke van SC Pienaar, bekende en gerekende fotograaf wat al by baie meer troues was as waarskynlik almal van ons:

• Bespreek jou fotograaf vroegtydig om te verseker jy kry die fotograaf van jou keuse.

• Gee vir jou fotograaf die datum, plek waar die bruid en bruidegom aantrek, kerk en lokaal en tye van seremonies.

• Foto’s van die bruidegom kan so vroeg soos twee ure voor die seremonie geneem word. Die manne kan dan weer rustig voortgaan met wat hulle moet doen.

• Dit is belangrik dat die bruid heel eerste klaar is met aantrek, grimering en hare. Dit verminder die druk op die bruid. Sorg dat die bruid minstens 30 minute voor die tyd klaar is sodat daar genoeg tyd is vir foto’s voor die seremonie.

• Neem die seisoen in ag! Bruide wat in die somer trou en groot en swaarder rokke dra, sweet baie vinniger hul grimering af as die bruide wat ligter rokke dra. Manne in pakke kry ook swaar in die somer.

• Die mooiste tyd van die jaar vir foto’s in die Karoo is vanaf Mei tot Julie. Nie net is die weer wonderlik nie, maar dis ook goedkoper. Baie troulokale is dan beskikbaar en goedkoper as in die lente en somermaande.

• Dis altyd makliker vir die fotograaf, toekomstige bruid en bruidegom as hulle mekaar eers vooraf ont­moet. Almal is dan meer op hulle gemak en die fotograaf kan ’n duidelike idee kry watter soort foto’s om te neem, en of daar enige sensitiewe sake is of spesiale goed gaan gebeur waar­op gefokus moet word.

Tydens so ’n ontmoeting kan ook vroegtydig gesien word of julle oor die weg gaan kom.

• Maak seker dat daar genoeg spasie en lig is waar die bruid aantrek. Klein donker kamers is moeilik om in te werk en skep soms ’n spanningsvolle atmosfeer.

• Kies een persoon wat saamgaan wanneer daar gesamentlike foto’s geneem gaan word. Sy kan dan fokus op fyner goed soos lipstiffie, ’n kreukel in die rok of as die bruid se grimering ’n tikkie opknapping nodig het.

• Hoe groter die gevolg, hoe langer gaan die foto’s neem.

• Dis goed om te maak of die fotograaf nie daar is nie. Mense wat natuurlik optree se foto’s vang absoluut die dag se gevoel en emosies vas. Groepfoto’s is natuurlik meer geposeer.

Laastens moet die bruid en bruidegom hul dag geniet. Voor jy jou oë uitvee is die dag verby en al wat oorbly is jou foto’s of jou rok.

Log in with your credentials

Forgot your details?