Wees waaksaam sodat misdaad jou nie verras nie

Deur Liesel le Roux
DIT is belangrik dat ons bewus moet wees van wat om ons aangaan sodat ons hopelik nie verras sal word deur ’n misdaad nie.

So het Jaco Vorster, onder-voorsitter van die Oudtshoorn Besigheidskamer, verlede Donderdag-aand by die kamer se netwerk­aand gesê oor die motorkaping waarin hy onlangs voor sy besigheid betrokke was.

“Drie motorkapers val nie uit die lug nie; hulle kom na jou motor toe met ’n doel voor oë. Jy moet sorg dat jy ten alle tye die bewustheid (awareness) het van wat om jou aangaan.”

Rudi du Toit, operasionele bestuurder van Alert Patrol wat die netwerkaand geborg en aangebied het, het aan teenwoordiges gesê dat mense se besluite ’n groter rol in hul veiligheid speel as net die omstandighede van ’n gevaarsituasie.

“Daar is deesdae baie veiligheidstelsels op die mark, maar as mense nie eienaarskap daarvan neem en toesien dat dit reg gebruik word nie, help dié stelsels niks.”

Du Toit het die oë laat rek met statistiek wat toon dat sowat 1,7 miljoen sekuriteitspersoneel tans in Suid-Afrika werk (9 000 maatskappye) in vergelyking met slegs 4 000 in Finland (323 maatskappye), 73000 in Frankryk (1600 maat-skappye), en 120000 in Duitsland (2000 maat-skappye). Die verhoudings tussen die poli­siemag en bevolking is in Suid-Afrika ook heeltemal buite verhouding. “Die slegte nuus is dat dit nie beter gaan word nie. Die goeie nuus is dat ons wel iets daaraan kan doen,” het hy gesê.

Du Toit gee die volgende wenke:

• Sekuriteit is die verantwoordelikheid van elk­een – sien om na jou eie persoonlike sekuriteit, maar ook na die van jou gesin, kinders en die mense om jou.

• Enige persoon wat in ’n traumatiese situasie beland, sê altyd hulle het dit nie verwag nie. Jy moet jouself voorberei op die ergste.

• Sorg vir noodplanne by die huis en werk en wanneer jy buitenshuis is. Het jy ’n paniekknoppie? Is noodnommers byderhand?

• Vroue moenie net bang wees nie. Statistiek toon dat vroue wat weerstand bied as ’n handsak byvoorbeeld gegryp word, beter van sulke situa­sies af kom. Wees egter versigtig in ’n lewensbe­dreigende situasie. Vertrou jou intuïsie.

• Wees waaksaam, wees bewus van wat buite jou huis en besigheid aangaan.

• ’n Veiligheidstelsel by jou huis of besigheid is soos die lae van ’n ui – met elke laag koop jy ekstra tyd.

Daar is baie sekuriteitsprodukte te koop, soos ogies by ’n voordeur of hek, verskillende soorte sekuriteitskameras, ens ens.

So lyk inligting van Alert Patrol oor misdaad op Oudtshoorn, 30 Augustus tot 5 September:

• Huisbraak op 3 September tussen 07:30 en 17:20, Albertstraat. Slaapkamervenster gebreek om toegang te verkry.

• Huisbraak tussen 2 en 3 September in Rollnickstraat. Deur afgebreek vir toegang

• Huisbraak in Kerkstraat op 3 September tussen 00:05 en 05:00. Agterdeur oopgemaak wat nie gesluit was nie.

• Roof op 31 Augustus om 14:00 by stortingsterrein. Klaer is met graaf aangerand en geroof van sy beursie en selfoon.

• Diefstal uit motor op 31 Augustus om 13:00 in Regentstraat. Handsak gesteel wat agterop ’n bakkie gelos is.

Log in with your credentials

Forgot your details?