Vier so ’n ‘ekonomiese’ Valentynsdag

Deur Angelique Erasmus
MET die ekonomie wat huishoudings al hoe meer knyp en met Valentynsdag om die draai, het Die Hoorn na alternatiewe opsies gaan kyk om jou geliefde vir Valentynsdag te bederf, opsies wat nie ’n arm en ’n been sal kos nie!

♥ Haat jou geliefde ’n deurmekaar kombuis, wasgoed wegpak, of ’n vuil motor? Waarom nie jou liefde bewys deur ’n taak te behartig om jou maat se lewe makliker te maak nie?

♥ Maak ’n “Hoekom ek jou liefhet”-boek. Hand­gemaakte geskenke is nie net goedkoper nie, dit is ’n fantastiese manier om jou liefde te betoon aangesien dit persoonlik vir jou geliefde gemaak is.

♥ Wat van ’n skattejag met geheime boodskappies en lekkergoed wat op plekke in die huis en tuin weggesteek is?

♥ ’n Piekniek onder die sterre is nog ’n plan; as dit moontlik is met tuisgemaakte gebak, of geregte in hartvorm gesny. Vir die superkreatiewe mans of vroue: Sny blomme uit verskillende soorte vrugte vir ’n eetbare ruiker.

♥ Spandeer kwaliteit tyd saam deur saam in die kombuis te kook. Skep ’n romantiese atmosfeer met sy/haar gunsteling musiek en ’n heerlike glas wyn. Dek ook die tafel mooi deur tot selfs handgemaakte papierversierings te maak. Onthou, uiteindelik lê die belangrikheid van hier­die dag nie in die rande en sente wat spandeer word nie, maar in die tyd, aandag en moeite wat gespandeer word om jou geliefde spesiaal te laat voel!

Log in with your credentials

Forgot your details?