The Bright House: Kleur en tekstuur blaas lewe in ’n huis

1. Die rooi kandelaar was die eerste dekorstuk wat plek gekry het in The Bright House, sê Pierre Malherbe. In die agtergrond is ’n tafeltjie wat bestaan uit ’n houtstomp met groewe bo-in en ’n lig binne wat daardeur skyn. 2. Deel van die leefvertrek en kombuis. 3. Bome en ’n groen muur bring die natuur deur die huis se groot glasbvensters na binne. 4. Dié groen brandtrap het ’n appel en ’n ei gekos en duidsende rande wat ’n ander trap na bo sou kos, gespaar. Berig: Liesel le Roux en Angelique Erasmus Foto’s: Liesel le Roux en Pierre Malherbe

1.

2.

3.

4.

’N MENS kan ver kom en baie vermag met ’n blik verf en ’n mooi lap, sê Pierre Malherbe van Oudts­hoorn. Malherbe en sy vrou Debbie is die eienaars van Jemima’s, bekende restaurant in Oudtshoorn, en sedert April 2018 ook van The Bright House, ’n gastehuis vol inspirasie en kleur en tekstuur wat hulle agter Jemima’s gebou het.

Die eerste les wat mense moet leer as hulle ’n huis mooi wil maak, is dat dit nie nodig is om duur te koop nie. Talle van die groot vensterrame in die huis en die groen brandtrap wat in die leefvertrek ’n fokuspunt vorm, het Malherbe vir onder R100 by ’n tweedehandse boumateriaalwinkel gekoop.

Baie van die meubels in die huis is ’n ou stoel of bank wat nuut oorgetrek is, ’n sytafeltjie wat eintlik net ’n boomstomp is, of ’n ornament wat hy of Debbie iewers gekry en gekoop het omdat dit vir hulle mooi is.

“As jy van iets hou, koop dit en hou dit tot jy die regte plek daarvoor kry. En hou jou oë oop vir interessante dinge,” sê Malherbe.

Hy is self verantwoordelik vir baie van die kunswerke in sy eie huis en in The Bright House, en die een verantwoordelik vir die metamorfose van talle ou meubelstukke of bloot net stukke hout – wat met net ’n ry skroefies, ’n stukkie plaat of twee en vernis ’n tweede lewe kry!

Hy hou van ’n meubelstuk wat sentimentele waarde of ’n storie het. Soos die tandartsstoel van sy pa, wyle dr Gawie Malherbe, wat nou met ’n groen volstruisleeroortreksel in The Bright House staan. “Dit is nou ’n unieke stoel, maar dis ook ’n stukkie van my geskiedenis wat hier staan.”

Malherbe sê as hy mense kan raad gee, sal dit wees om alles met liefde te doen, en nie oorhaastig nie. “Kry ’n konsep, en bou daaraan. Gaan sit in ’n vertrek en wag en voel wat jy wil doen. As daar veranderinge kom, is dit deel van die reis.

“En as jy nie seker is wat om te doen nie, plant ’n boom. Dit is belangrik: As jy wonder wat om met jou tuin te doen, plant eers ’n boom.”

Malherbe sê hy het die afgelope jare meer as 80 bome op die perseel waarop The Bright House en sy huis staan, geplant. “The Bright House het baie glas en deure wat kan oopskuif sodat mens na buite kan lewe.

Hier is nie ’n groot tuin nie, maar ek het baie bome geplant en heel eerste die muur groen geverf sodat dit wegsmelt teen die bome.”

Hy waarsku dat dit onnodig is om groot geld te spandeer en skuld te maak om ’n huis mooi te maak. “Die grootste geheim is om nie op rekening te koop nie. Kry ou goed by jou ouma, langs die pad, in die tuin, in ou winkels… Jy weet nooit wat jy waar gaan kry nie.”

Log in with your credentials

Forgot your details?