Spaar só krag in die koue wintermaande

Deur Angelique Erasmus
IN die koue wintermaande gebruik huishoudings meer krag vir die gewone daaglikse funksies. Elektriese toestelle, en hulpmiddels soos verwarmers, lugreëlaars, elektriese komberse en warmsakke word gebruik om huise en lywe warm te hou wanneer die die Swartberge onder ’n sneeulaag lê of die koue winterluggie byt.

Daar is egter verskeie maniere om jou krag­rekening so laag as moontlik in die wintermaande te hou, as is dit net met ’n paar ekstra rande.

Hier volg ’n paar praktiese wenke:
• Gebruik eerder komberse as verwarmers wat baie krag gebruik.

• Trek eerder nog ’n trui of ’n jas aan voordat jy die verwarmer aanskakel of nog warmer stel.

• Moenie ’n elektriese kombers vir lang tye aanlos nie. Skakel dit aan om die bed warm te maak en skakel dit dan weer af.

• Eet dadelik sodra kos gaar is, omdat kos baie vinnig koud raak in die winter. Moenie krag mors deur kos te laat staan sodat dit later weer verhit moet word nie.

• Maak dadelik warm drinkgoed sodra die ketel gekook het. Water in die ketel koel ook vinnig af in die winter.

• Gooi kookwater in ’n warmfles vir latere gebruik.

• Oppas vir tuimeldroeërs! Dié toestelle gebruik baie krag in die winter. In die Klein Karoo en Karoo is daar volop son in die winter en is dit die moeite werd om eerder twee dae te wag vir klere om droog te word as om die tuimeldroeër aan te skakel

• Doen navorsing oor elektriese toestelle se kragverbruik wanneer jy iets nuut wil koop. Vra ook hulp van die verkoopspersoneel by winkels sodat jy seker kan maak jy koop nie ’n kragvreet-monster nie.

• Die nagte is langer in die winter en daarom brand ligte ook langer. LED ligte in die huis lewer ’n groot bydrae tot kragbesparing in enige seisoen.

Log in with your credentials

Forgot your details?