SAMA kongres: Lig gewerp op nuutste behandeling van beroerte

Dr Ariel Eyal, vaskulere chirurg.

Dr Ariel Eyal, die eerste vaskulêre chirurg wat hom in die Suid-Kaap kom vestig het, se lesing het oor die nuutste vroegtydige en kundige behandeling van beroertes gegaan.

Die belangrikste is natuurlik om beroertes te voorkom en derhalwe moet risikofaktore soos hipertensie, diabetes, cholesterol, vetsug en onaktiwiteit aggressief behandel word.

Hy het beklemtoon dat die gebruik van statin nie soseer oor die verlagende effek op cholesterol gaan nie, maar oor die krimping, stabilisering en voor-koming van plaakvorming in die are sowel as die anti-inflammatoriese effek van die middels.
Inteendeel, hy voel so erg daaroor dat hy wens dat dit in drinkwater gesit moet word.

Hy sê wêreldwye navorsing oor medisyne waarvan die bevindings op bewyse grond is, het onteensegtelik die waarde van die middel aangetoon.

Dr Eyal het gewaarsku teen wat hy noem die “google- en lekepers” wat pasiënte negatief teen die middel beïnvloed.
Die beheer van suikersiekte en hoë bloeddruk is net so belangrik in die voorkoming van beroertes. Pasiënte is te geneig om “mak” (oorgerus) te raak en kry dan beroertes wat hulle en hul naasbestaandes se lewens onherroeplik verander.

Volgens dr Eyal is dit van deurslaggewende belang dat pasiente by die eerste tekens van ’n be-roerte so gou moontlik by ’n dokter of hospitaal uitkom vir behandeling.

Miljoene breinselle word letterlik per minuut verloor tydens ’n beroerte en dit is uiters belangrik dat die pasiënt se brein so gou moontlik geskandeer word. Die rede is om te onderskei of die beroerte weens ’n bloedklont of bloeding is.

As dit ’n klont is, word daar onmiddellik ’n middel ingespuit wat die klont oplos. Hoe gouer die inspuiting hoe minder die permanente skade.

As bloeding die beroerte veroorsaak het, kan spoedige chirurgie nodig wees.

Dr Eyal het ook lig gewerp op die nuutse tegnieke om klonte met behulp van stente uit are in die brein te verwyder sonder om enige groot snitte te maak asook op nuwe tegnieke om vernoude ­slagare deur middel van die “gaatjie-metodes” (endoskopie) te vervang.

• Dr Vermeulen, sê dit is gerustellend om te weet dat sulke tegniek in die Suid-Kaap beskikbaar is.

Log in with your credentials

Forgot your details?