Osoonterapie gee liggaam so ’n hupstoot

So lyk die osoonterapie-”kokon” waarin die proses plaasvind. Op die foto poseer Leré Stander vir die foto. Foto: Wyndham Ewerts

Deur Wyndham Ewerts
Die tegniese direkteur van die Osoonvereniging van Suid-Afrika, Deon Gresse, het Saterdag in ’n praatjie op Oudtshoorn inwoners toegespreek oor osoonterapie. Die inligtingsessie by Beans about Coffee in die Klein Karoo Emporium was ’n inisia­tief van Just Therapy se eienaars, Jolanie du Plessis en Annelize Wepener.

Gresse sê met osoonterapie, wat soms ook verrykte suurstofterapie of supergekonsentreerde ­suurstofterapie genoem word, penetreer die osoon nie die vel nie.

“Daar is wel ’n reaksie deur die osoon en die stoom op die vel, wat dan waterstofperoksied vorm en deurtrek tot in die dermis van die vel.”

Hy sê veelvuldige reaksies vind dan plaas, soos die brein wat ’n sein ontvang en dan stuur na die rugmurg om meer witbloed-, rooibloed- en stamselle te vervaardig.

Die volgende reaksie is dat die suurstof in enkele atome afbreek en heg aan ’n rooibloedsel wat dan deur die liggaam vloei. Dié enkelatoom, ook genoem O1, is onstabiel op sy eie, en heg dan aan nog ’n O1-atoom, en sodoende word dit O2, wat suurstof is.

“Dus word die liggaam verryk met suurstof,” het hy gesê.

“Suurstof is van kardinale belang vir enige persoon, maar ander elemente soos gesonde voedsel, alkaliese water, vitamiene en minerale, voldoende slaap en matige oefeninge moet nie vergeet word nie.”

Volgens Du Plessis kan osoonterapie nie siektes genees nie, maar wel die liggaam deur dié proses ’n hupstoot gee om selfgenesing moontlik te maak.

“Ons jubel en juig daagliks saam met ’n menigte van ons kliënte wat wonderlike resultate ervaar,” het sy bygevoeg.

Log in with your credentials

Forgot your details?