Op 17 jaar 17de in SA

Leras in aksie

Hy is nommer twee op die junior ranglys in die land, wys Leras van Zyl van Oudtshoorn

Deur Angelique Erasmus
’N 17-JARIGE Oudtshoorniet, Leras van Zyl, het binne ’n jaar van die 117de na die 17de plek op die algehele ranglys van SA Jaggeweerskiet geklim. Dié graad 11-leerder van Langenhoven Gimnasium het voorwaar die oë van ’n valk!

Die algehele ranglys sluit alle deelnemers, mans, dames en juniors in.

Op die junior ranglys is hy tweede in Suid Afrika!

Leras was op 12 en 13 April lid van die eerste junior Proteaspan wat gekies is om aan ’n toets­reeks in Nami­bië deel te neem.

Leras, wat as klein seuntjie op die plaas begin skiet het, het op sewe jaar sy eerste springbokkie platgetrek.

“Gelukkig het hulle net die bloed aan my gesig gesmeer en moes ek darem nie snaakse goed eet nie,” vertel hy.

Op 15 het hy aan kompetisies begin deelneem.

Hy sê sy grootste uitdaging was in 2018 toe hy aan die wêreldkampioenskap in Bloemfontein deelgeneem het, maar dat die lekkerste kompetisie die toetsreeks in Namibië was.

“Ek geniet die sport regtig baie. Ek is gemaklik met gewere en weet hoe om hulle te hanteer,” sê Leras.

“Daar is baie faktore wat jou skietvermoë beïnvloed, soos die terrein, windspoed en hoe ver jou teiken van jou af is.”

Leras laai sy eie patrone vir sy 6 mm SLR-geweer waarmee hy skiet.

En boonop het dié appel nie ver van die boom geval nie. Leras se ma, Junita van Zyl, was in 2017 die Suid-Afrikaanse vrouekampioen in jaggeweerskiet.

Ma en seun het vanjaar ook saam hul Protea-kleure ontvang, ’n prestasie wat hulle met ’n ma en seun van Beaufort-Wes, Marietha en Manus Moolman, deel.

Log in with your credentials

Forgot your details?