‘Ons is almal net mense,’ is Parc se boodskap

Glen Snyman van Parc links bo saam met dr Clifford van Wyk en bo saam met mense met wie hulle op Clifton se Vierde Strand gesels het.  Foto’s verskaf

TWEE Oudtshoorniete, Glen Snyman en dr Clifford van Wyk, het Vierde Strand in Clifton op Nuwejaarsdag besoek om die boodskap uit te dra dat Suid-Afrikaners mekaar as mense en mede-Suid-Afrikaners moet beskou en nie as wit, Indiër, swart of bruin mense nie.

Dit is immers die boodskap van PARC (People Against Race Classification) sê Glen Snyman, stigter en koör­di­neerder van PARC.

Vierde strand was oor die feesgety in die nuus nadat mense deur ’n sekuriteitsmaatskappy gevra is om die strand te verlaat en dit gely het tot ’n rasseherrie met selfs ’n skaap wat op die strand geslag is as deel van ’n sogenaamde reinigingsritueel

“’n Mens kan nie rassehaat van ’n strand of uit ’n woongebied dryf deur ’n skaap te slag nie. Mens doen dit deur opvoeding. Rassime kan net deur ’n verandering in jou denkwyse, hart en gesindheid opgelos ,” sê Snyman.

Snyman sê die woorde van Edmund , “All it takes for evil to triumph, is for good men to do nothing’’, het hom en Van Wyk aangespoor om die strand te besoek.

“Ons was in ons PARC T-hemde geklee met die boodskap Ek is nie Bruin, Swart, Wit of Indiër nie. Ek is ’n Suid-Afrikaner daarop. Ons het met ’n groot Suid-Afrikaanse vlag op die strand geloop. Mense van alle kultuurgroepe het positief en spontaan op hierdie inisïatief en boodskap gereageer en wou foto’s neem saam met die T-hemp en vlag.”

Snyman sê hy en Van Wyk het die indruk gekry van die mense op die strand dat almal smag na samesyn, nie-rassigheid, harmonie en vrede.

“Die sekuriteitsmaatskappy het verkeerd opgetree. Dit was ook verdelend en onnodig dat onskuldige mense in ’n politieke magspel ingesleep is op grond van hul velkleur, wat toe tot rassespanning geëskaleer het.

“Ons moet volwasse raak in ons reaksie en ons denke oor rasse-aangeleenthede, en ophou om impulsief te reageer op nasionale gebeure dat dit ons morele standaarde elke keer negatief beïnvloed.

“Deur PARC wil ons beklemtoon dat ’n alternatiewe sienswyse ook bestaan, een met die klem op versoening en inklusiwiteit.”

Log in with your credentials

Forgot your details?