’n Millenium-mamma en haar ma

Kristy Potgieter, bestuurder van De Zeekoe Gastehuis, en haar ma, Jay Seyffert – skilder en graad 1-onderwyser, het spesiaal vir ons Moedersdag-uitgawe met Die Hoorn gesels oor ma-wees meer as dertig jaar gelede en ma-wees nou!  Foto verskaf

Deur Angelique Erasmus
TYE het beslis verander van hoe vroue deesdae hul kinders grootmaak en hoe hul ma’s en oumas op hul beurt hul kinders grootgemaak het.

Een ding is egter seker; dis was nog nooit speletjies om kinders groot te maak nie en het al vir menige ma se grys hare gesorg.

Ek is seker elke generasie het verskeie kere gesê of gewonder: “Wat gaan van ons kinders word!” Maar ons is steeds hier, en elke generasie pas aan by die omstandighede waarin hulle hul bevind.

Die Hoorn het by ’n ouma van vyf en ma van drie, Jay Seyffert, en haar dogter, Kristy Potgieter wat die ma is van twee jong kinders, gaan aanklop om te hoor hoe dit verskil het om 30 jaar gelede kinders groot te maak teenoor vandag.

“Toe ek my drie kinders grootgemaak het sowat dertig jaar gelede, was weggooidoeke ’n luukse. Vandag gebruik mammas die einste doeke vir spoegdoeke, en weggooidoeke is maar die norm,” sê Jay, ’n bekende skilder en graad 4-onderwyser by die Laerskool Van Reede.

Ook wat modes betref, is daar verskille. Kindermodes is vandag ’n groot bedryf met die mooiste boe­tiekklere vir seuntjies en meisies.

Die ouer generasie het egter dikwels baba- en kinderklere wat te klein geword het, na familielede en vriende gestuur of van hulle ontvang.

Dieselfde geld vir kraamdrag. Vroeër het vroue los kraamdrag ge­dra om hul magies weg te steek; dees­dae is kraamdrag juis daarop gefokus om die swanger vrou se ba­bamagie te beklemtoon en haar stylvol te laat lyk.

Ook tegnologie het dramaties oor die afgelope dekades verander – deesdae se 4D-sonars is ongelooflik in vergelyking met die tegnologie van selfs net 10 jaar gelede.

Jay sê sy het ’n dra-kot gehad wat bo-op ’n stootwaentjie gepas het. Dit is as bedjie deur al drie haar kinders gebruik.

Kristy, die voltydse bestuurder by De Zeekoe Gastehuis buite Oudts­hoorn, vertel sy het ’n stootwaentjie gehad waarmee sy kon draf, en ná die koms van haar tweede kind het ’n dubbelstootwaentjie waarin albei op een slag kon sit en gestoot word.

Volgens Jay was gesinne in die verlede ook groter. “My ouma was een van ses kinders, en ek is self een van nege kinders!”

Ook die manier waarop kinders hul name kry, het verander.

“My ma het vir my en my suster mooi, unieke name gekies. My broer het die familienaam gekry omdat dit maar die ding was om te doen,” sê Kristy.

Sy self het twee moderne mooi name vir haar kinders gekies. Hoewel familiename nie meer die norm is nie, is daar steeds ouers wat die tradisie voortsit.

Voorheen het baie ma’s met kwa­lifikasies eers teruggekeer werk toe wanneer die kinders begin skoolgaan of klaar met skool is. Vandag egter maak die meeste ma’s hul kinders groot terwyl hulle werk.

“Vandag se lewe is so gejaag. Soms is dit vir my ’n groot uitdaging tussen kinders grootmaak en werk.

Daar is gereeld mense wat vir my sê om op te hou werk en net my kinders groot te maak,” sê Kristy

Raad wat Jay en Kristy gereeld moes hoor, is dat hulle soveel tyd as moontlik saam met hul kinders moet deurbring omdat kinders so vinnig grootword.

Dit is duidelik een ding wat deur soveel generasies nog nooit ver­ander het nie – voordat jy jou oë uitvee, is jou kinders groot!

En hoewel sosiale media ’n wonderlike hulpmiddel is, kan dit maklik kosbare en intieme tyd wat ouers aanhul kinders gee, steel sonder dat hulle dit agterkom.

“Onverdeelde aandag aan ons kinders is die grootste geskenk wat ons vir ons kinders en geliefdes kan gee,” sê Jay.

Log in with your credentials

Forgot your details?