Herbruikbare winkelsakke wil vroue entrepreneurs maak

1.

1: Vroue van Toekomsrus in Oudtshoorn besig om herbruikbare winkelsakke te maak. Van links is Marchie Visser, Leigh-Anne Apolis, Mary Carr wat die projek begin het, Crushaida Pritchard en Trazene Isaaks. Foto: Liesel le Roux
2: Die kleurvolle sakkies waarin die stewige winkelsakke gebêre word, is klein en pas maklik in ’n baadjiesak of handsak.
3: Die winkelsakke is van dieselfde materiaal waarmee valskerms gemaak word met ’n kleurvolle sakkie daaraan vasgeheg waarin dit gebêre word
4: Lizzie Visser van De Rust aan die werk met haar naaimasjien.
5: Die woord “Hope”wat Visser op haar naaimasjien geskryf het as aanduiding van die verskil wat die projek in haar lewe maak.

2.

3.

4.

5.

Deur Liesel le Roux
OP Lizzie Visser van De Rust se naaimasjien staan die woord Hope deesdae geskryf. Want vir Lizzie het ’n projek waardeur vroue van die Klein Karoo herbruikbare winkelsakke maak, ’n in­koms­te en ’n nuwe lewe gebring.

Lizzie is een van ’n groep vroue wat reeds betrokke geraak het by die Rethink bags-projek van  Mary Carr, ’n gastehuiseienaar van die Country Guesthouse in die voetheuwels van die Kammanassieberge.

Sy wil vroue bystaan om entrepreneurs te wees en hul eie besigheid en inkomste te skep, sê Carr. In dié proses deel sy haar kennis en vaardighede met die vroue en lei hulle op. Sy wil inderdaad vir vroue nuwe hoop skep.

Dié sakke, waarvoor daar reeds ’n groot aanvraag is, kan oor en oor gebruik word en werk dus plastiekbesoedeling teen, hulle kan klein opgevou word en in jou sak of handsak pas, en hulle is sterk want hulle word van dieselfde materiaal as valskerms gemaak.

Elkeen van die winkelsakke word in ’n kleurvolle lapsakkie gebêre wat aan dit vasgeheg is sodat dit netjies gebêre kan word.

Saam met elke sak wat gekoop word, ontvang die koper ook ’n kaartjie met die naam van die vrou daarop wat dié sak liefdevol gemaak het.

Die herbruikbare winkelsakke word reeds deur vroue van De Rust, Toekomsrus, Rosevalley en die Kammanassie uit huise gemaak, maar verdere uitbreiding word tans gestrem omdat Carr reeds geruime tyd tevergeefs soek na ’n bekostigbare perseel op Oudtshoorn waar vroue die sakke kan maak.

Die meeste vroue het nie naaimasjiene nie en ook nie plek by die huis om te werk nie.

“Dit hoef nie ’n groot perseel te wees nie, dit kan selfs ’n motorhuis wees. Dit moet net kragpunte hê vir naaimasjiene,” sê sy.

“Daar is vier vroue wat onmiddellik kan begin werk.”

Carr beoog om met ’n skenking wat die projek ontvang het, industriële naaimasjiene te koop vir die projek sodra ’n werkplek gevind is. Sy sê enige skenkings van tweedehandse naaimasjiene is ook welkom. Sy sal die naaimasjiene herstel indien nodig.

Vir Carr is dit noodsaaklik dat die projek moet uitbrei en groei en vir meer vroue geleenthede moet bied.
“Ek hou nie van die woord ‘bemagtig’nie,” sê Carr. Volgens haar streef sy veel eerder daarna om werk te skep en die vroue onafhanklike entrepreneurs te maak wat die sakke aan Rethink bags lewer en so ’n gereelde inkomste kan verdien.

Die herbruikbare sakke is reeds in Oudtshoorn te koop by PostNet en Wellbeing en binnekort ook by die Klein Karoo Ostrich Emporium.

• Vir hulp met ’n perseel en naaimasjiene, kontak Mary Carr by rethinkbags@gmail.com of 072 248 4830.

Log in with your credentials

Forgot your details?