Goeie herinneringe en blye weersiens na 40 jaar

Die Hoërskool Zwartberg van Prins Albert se 1974- en 1975-matrieks wat die afgelope naweek reünie gehou het, op die trappe van die skool waar hulle 40 jaar gelede skoolgegaan het. Foto: Marlene Malan

Deur Marlene Malan
Dissipline om hard te studeer en te werk om veelsydige loopbane te bou: Dis die belangrikste dinge wat die Hoërskool Zwartberg in Prins Albert se matrieks van 1974 en 1975 geleer het.

Toe 25 van dié oud-leerlinge die afgelope naweek reünie op die dorp gehou het, was die twee dae gevul met goeie herinnering en blye weersiensoomblikke. Suzanne (Klue) Nel, wat in 1974 matriek geskryf het, sê hulle was opgewonde én vol heim­wee om weer in die gange te loop wat meer as 40 jaar gelede vir hulle so bekend was. “Ons jare hier sal altyd deel van ons vorming en ons bestaan wees. Dat die tyd so gou verbygegaan het, is byna ondenkbaar, maar ons het fantastiese herinneringe.”

Elk van dié oud-leerlinge het ’n kans gekry om iets oor hul alma ma­ter en die dorp in die 1970’s te vertel. Hul drome het meestal werklikheid geword, en die skool en onderwysers het hulle goed genoeg voorberei om die regte loopbaan- en lewenskeuses met selfvertroue te maak. Waarop baie van dié oudmatrieks nié gereken het nie, is dat ’n mens in jou lewe nie noodwendig één loopbaan hoef te volg nie. Jy gryp geleenthede aan, en daar is niks daarmee verkeerd om op 55 of 60 jaar ’n splinternuwe werk te begin nie – veral as entrepreneur. Nog ’n boodskap was dat jy jouself met verloop van tyd in jou persoonlike en loopbaanlewe uit gemaksones moet haal en nuwe dinge aanpak.

Die oudmatrieks het van onder meer Bellville, Stellenbosch, Agulhas, Groot-Brakrivier, George, Ashton, Prins Albert en Zastron gekom.

Twee oudonderwyers was ook daar – Pieter Moller en Dawid Rossouw. Albei het gesê te oordeel na die suksesvolle lewens wat dié oudleerlinge lei, was die dissipline van destyds nie tevergeefs nie.

“Ons het toe nie verniet met julle geswoeg nie. Ek is trots op alles wat julle bereik het,” het Moller tong in die kies gesê. “Hier is nie een van julle wie se hele familie ek nie geken het nie,” het Rossouw vertel.

Die huidige skoolhoof, Ricky McKnight, het die groep genooi om deur die skool te loop en te kyk na die inhoud van kaste waarin die “ge­skie­denis” bewaar word, soos ’n aflos­stok­kie en rugbybal van toentertyd.

Dries de Wit, ’n organiseerder, sê die groep – almal ouer as 60 – hou kontak en beplan weer so ’n samekoms in die toekoms.

Log in with your credentials

Forgot your details?