Dit begin met ’n datum

Onthou dié wenke vir jul troureëlings

Deur Liesel le Roux
ALLE reëlings vir ’n troue begin met die vasstelling van jou troudatum, sê Melanie le Roux, eienaar van i Do gourmet op Oudtshoorn.

“Daarsonder kan jy eintlik niks doen nie. Maar wanneer julle op ’n datum besluit het, kan julle begin om ’n venue te soek, ’n spysenier, ensovoorts.”

Melanie, wat al jare lank in die kos- en spysenieringsbedryf werk, het ’n paar belangrike wenke vir voornemende bruidspare vir Die Hoorn gegee.

Melanie sê voornemende bruide moet onthou dat party datums meer gewild is as ander.

“Party datums, soos oor langnaweke, is baie keer ver vooruitbespreek. September tot Maart is ook gewilde tye. Mense is nou reeds besig om hul troues vir 2019 te beplan.”

Sy sê omdat party datums gewild is, mag dit gebeur dat jy kan sukkel om ’n venue en ’n spysenier te kry as jy nie betyds begin beplan nie.

Sorg vir Plan B Nog ’n wenk van Melanie vir bruidspare is om altyd te sorg vir ’n Plan B, wat jou reëlings vir jou troue ook al is.

Dit begin met ’n datum. “Dit is veral belangrik as jy buite trou of jou onthaal buite hou. As dit baie warm is op jou troudag
of die wind baie waai, kan dit al jou planne deurmekaarkrap. Ek het al gesien hoe die wind tot sjampanjeglase van tafels afwaai.

“Weet wat jou Plan B gaan wees!”

Nog wenke
• Die bruidspaar en hul families moet weet hoe formeel of informeel hulle ’n troue wil hê voordat hulle ’n venue kies.

• Maak seker die venue wat jy kies, het ’n bruikbare kombuis/geriewe vir jou spysenier.
• Moenie dit oordoen met die kos, koek en drankies nie. Daar is dikwels te veel van alles. Dink aan jou sak! Oppas vir te veel! Bly eerder by eenvoud.

• Dikwels word baie kos by troues weggegooi. Met ’n buffetete gaan minder kos verlore as wanneer kos opgedien word en aan ’n tafel bedien word. Vermorsing is onnodig. Werk eerder spaarsaam met jou begroting.

• Sout- en soethappies is deesdae baie gewild as die voor- en nagereg by troues en ook ander funksies. Dit kan ook maklik hanteer word.

Log in with your credentials

Forgot your details?