Die begin van Valentyn …

Deur Angelique Erasmus
EEN keer per jaar word die mensdom gebombardeer met hartjies, kupido’s, blomme, poppies in koppies en alle denkbare skakerings van pienk, pers en rooi.

Dis soos ’n liefdesontploffling net waar jy kyk, loop, luister en stop.

Alles is natuurlik drie maal duurder as normaalweg, want “hulle” weet êrens gaan hulle ons almal vang met nog ’n beker, nog ’n das, nog ’n paar kouse vir die kas.

Ek self glo nie in bosse blomme, kaartjies met hartjies besmeer of duur sjokolade nie.
’n Blom uit die tuin sal sy ding doen, maar daar is diegene wat lettelik die ekstra myl loop om vir daai geliefde te wys: Jy is die een, al is jy net die tydelike een.

Die vraag is natuurlik waar kom hierdie dag vandaan? Watter groot geskiedkundige gebeurtenis het hierdie dag vol liefde laat ontstaan

Daar is baie stories wat verwys na St Valentine, in Afrikaans bekend as Valentyn.

In die derde eeu het Keiser Claudius II sy manskappe verbied om te trou.

Die keiser het geglo dat jong ongetroude mans sonder vroue en kinders beter soldate maak omdat hulle nie verantwoordelikhede en emosionele ver­bintenisse gehad het om hul aandag af te trek nie.

Valentyn het natuurlik in die liefde geglo en in die geheim paartjies getrou sonder dat die keiser daarvan bewus was.

Koppe het natuurlik gerol, insluitend die van Valentyn … en 14 Februarie is amptelik na hom vernoem om hom te vereer.

Dié wonderlike dag het ongelukkig heel moontlik ’n grusame begin gehad.

Daar bestaan natuurlik baie ander legendes, en dus is daar nie 100% sekerheid oor waar die dag vandaan kom nie.

En natuurlik moet daar nie net op Valentynsdag aan ons geliefdes liefde betoon word nie.

Maak elke dag ’n spesiale dag, al is dit net om ’n liefdeswoordjie in daardie spesiale persoon se oor te fluister of ’n spesiale boodskap aan hom of haar te stuur.

 

Log in with your credentials

Forgot your details?