Bly só koel hierdie somer…

Deur Angelique Erasmus
MET die somerseisoen wat al nader kruip, soek inwoners van die Klein Karoo al hoe meer na opsies om koel te bly of af te koel – van hul daaglikse kleredrag, tot in hul motors en huise.

Hier is ’n paar prakties wenke om te sorg dat jy hierdie somer koel bly, veral wanneer die kwik na die 40’s toe styg.

• Hoe om koel te bly in jou huis:
Swembaddens is ’n wonderlike opsie, maar vir diegene wat gelukkig genoeg is om ’n swembad te hê, is dit van die uiterste belang om jou swembad somergereed te hê.

Veiligheid is altyd belangrik. Maak dus seker jou swembad is ten alle tye veilig vir kinders en diere, wat ook lafenis in die koel water kan soek.

Lugversorgers in huise is in die Klein Karoo amper ’n noodsaaklikheid en nie net ’n luuksheid nie. Maak dus seker dat jou lugversorger vroegtydig gediens en getoets word vir enige probleme en dat die gas in die eenheid aangevul word soos nodig.

Dis ook belangrik dat ’n lugversorger pas by die grootte van die vertrek waarin dit geïnstalleer word. Eenhede wat te klein is, plaas te veel druk op die kompressor wat dit kan laat oorverhit en skade aan die eenheid aanrig.

Sommige vervaardigers eis dat eenhede elke ses maande gediens moet word om die waarborg in stand te hou.

Die optimale temperatuur om ’n lugversorger te stel en om maksimum krag te bespaar, is 22 grade Celsius.

• Hoe om koel te bly in jou motor
Besoek so gou moontlik ’n betroubare werktuig­kundige indien ’n motor se lugversorger nie meer koud maak nie. Dit is belangrik dat die oorsaak vir die fout vasgestel moet word.

Die gas in lugversorgers in ouer motors moet liefs elke drie tot vier jaar getoets en aangevul word as nodig, en nuwe motors elke agt tot 10 jaar.

Die oorsake waarom ’n lugversorger nie koud maak nie, kan ook by die motor se enjin lê en nie noodwendig by die motor se verkoelingstelsel nie.

Die gas in die stelsel kan nie opgebruik word nie, maar kan uit pype en seëls lek wanneer onderdele soos seëls lek of pype vergaan van ouderdom.

Hou altyd ’n 5 liter-bottel vol water in jou motor vir dae wanneer dit ekstra warm is, en verkoelers baie warm word. Gooi dan die water bo-oor die verkoeler om dit vinniger af te koel. Warmer dae veroorsaak hoër drukking in verkoelingstelsels, wat komponente harder laat werk.

Skakel die lugversorger af as dit nie op ’n konstante temperatuur bly nie, en vra hulp van ’n kenner om skade te beperk.

Log in with your credentials

Forgot your details?