Bly fiks en beveg Parkinsons

Reenen Barry (voor) en Piet Rootman op hul tandemfiets in Worcester afgeneem op hul fiets- toer van 230 km. Foto verskaf

Deur Higgo Jacobs
“EK het gevind dat, hoe fikser ek is, hoe beter is my balans. Fietsry spesifiek bied beter resultate as enige ander sportsoort.”

Dit is die raad van Reenen Barry (64), bekende prokureur van Calitzdorp, by wie Parkinson se siekte 12 jaar gelede gediagnoseer is.

Barry en sy skoolmaat van jare gelede op Calitzdorp, Piet Rootman, het onlangs ’n fietstoer op ’n tandemfiets onderneem om mense met dié siekte aan te moedig om fiks te bly en die siekte sodoende te beveg.

Barry en Rootman het op Maandag 4 Maart op Swellendam weggespring en op Robertson geëin­dig.

Dinsdag het hulle van Robertson na Rawsonville gery waar Rootman se toer geëindig het.

Barry se seun (Reenen jr) het by sy pa aangesluit vir die skofte vanaf Rawsonville na Klupmuts en van daar na die Groenpunt Stadion in Kaapstad. Die totale afstand wat Barry afgelê het, was 230 km. Hierna het Barry Vrydag en Saterdag gerus en toe Sondag die Kaapse Fietstoer oor 109 km aan­ge­pak en voltooi.

Volgens Barry toon studies dat hoë intensiteit oefening meehelp om die gang van Parkinson se siekte te vertraag en die motoriese funksies te verbeter. Hy sê dat mense met dié siekte hom kan kontak (082 393 4438) en dat hy met groot graagte sy ervaring met hulle sal deel. “Parkinsons is nie ’n siekte nie, dis ’n nuisance,” sê hy.

Log in with your credentials

Forgot your details?