Alles wat jy moet weet oor water en filtrering

Deur Heinrich Bosman
DIE mens moet gemiddeld twee liter water drink om die liggaam gesond te hou en om gifstowwe uit die liggaam te verwyder.

Maar baie mense sien nie daarvoor kans om byvoorbeeld Oudtshoorn se water te drink nie. Chloor word wanneer nodig gebruik om die water skoon te maak, en chloor is nadelig vir die mens.

Hoe gemaak as jy skoon water wil hê?

Daar is net twee opsies indien jy nie munisipale kraanwater wil drink nie, en dit is om jou eie water te suiwer of om skoon water te koop.

Wat is egter in die mark beskikbaar en watter soorte filtreeder of suiweraar kan gebruik word?

Voor ons begin, moet ons eers vasstel watter soort water ons gaan suiwer.

Watertipes
Harde water: Water met meer as normale vlakke van kalsium en magnesium. Harde water pak aan op die element van jou geyser en in jou waterpype. ’n 1 mm-aanpaksel op jou geyserelement kan ’n verhoging van 15% op jou elektrisiteitsrekening meebring.

Sagte water: Water wat meer drinkbaar is en nie so baie minerale bevat nie.

Daar is tien maniere om water te suiwer naamlik met geaktiveerde koolstof, distillering, deionisasie (deionization), ioonuitruiling (ion exchange), omgekeerde osmose (reversed osmosis), meganies, osoonverryking, koolstofblok (carbon block), korrelkkoolstof en waterversagters.

Vir huisgebruik is daar die volgende:
Watersuiweringsbekers wat meestal koolstoffilters bevat en die smaak en reuk van water verbeter deur die gifstowwe te verwyder.

Kraangemonteerde suiweraars wat direk aan die kraan gekoppel word. Dit is maklik om te instal-leer, maar pas nie op alle krane nie.

Werksbladgemonteerde suiweraars, wat baie gewild is. Die stelsel word aan die kraan gekoppel en gebruikers kan kies of hulle gefiltreerde water of gewone water wil gebruik. Hierdie suiweraars gebruik meestal koolstoffilters om water te suiwer. Die stelsels kan een of twee filters gebruik.

Watersuiweringstelsel wat onder die werksblad naby die opwaswasbak gemonteer word.

Dit benodig weinig aandag. Hierdie opsie is gewoonlik duurder as die reeds vermelde stelsels.

Daar is verskeie sulke soort stelsels beskikbaar – van reeds gemelde filtreerders tot die omgekeerde osmosestelsel.

Die omgekeerde osmoseproses is ’n baie fyn suiweringsproses wat op molekulêre vlak geskied. Die proses dwing die water deur ’n baie fyn membraan wat tot 95% van skadelike minerale en chemiese stowwe uithaal. Die water met die minerale en gifstowwe word in die afvoerpyp losgelaat en die skoon water word in ’n opgaartenk opgevang. Die stelsel verwyder alle grond, sand en roes uit die water. Dit verbeter die smaak en reuk van die water.

Met omgekeerde osmose gaan die water deur drie filters. Die eerste een verwyder al die groter deeltjies in die water soos grond, sand en roes. Daarna gaan dit deur ’n korrelgeaktiveerde koolstoffilter wat chloor, swaar metale, radon en waterstofsulfaat verwyder. Die derde filter bestaan uit geaktiveerde koolstofdeeltjies wat saamgepers word om ’n blok te vorm en wat oorblywende chloor, swaar metale, radon en waterstofsulfaat verwyder.

Na die drie filters gaan die water deur die omgekeerde osmosemembraan. Die water met afvalstowwe word in die afvoerpyp losgelaat en die water gaan dan weer deur ’n inlynkoolstoffilter voor­dat dit in die opgaartenk gestoor word. Voordat die water gebruik word, gaan dit deur ’n minerale balfilter wat voordelige minerale in die water terugplaas om die smaak en gehalte te verbeter.

Die pryse van die die onderskeie suiweringstel-sels wissel van R300 tot ’n paar duisend rand.

Die bekers kos vanaf sowat R300.

Die kraangemonteerde filters se prys begin by R250.

Die werksoppervlakgemonteerde filters kos sowat R800 en meer.

Die onderwerksbladstelsels kos sowat R1800 en meer.

Voornemende kopers moet goeie huiswerk doen en dan die keuse doen wat hul sak die beste pas.

Log in with your credentials

Forgot your details?