Voer skape so tydens droogtes

’n Dorper-ooi en haar lam buite Oudtshoorn.  Foto: Angelique Erasmus

Deur Ters Brand
MET die huidige wydverspreide droogte in Suid-Afrika moet die handhawing van die status van veld­weiding as goedkoopste voedingsbron vir her­kouerproduksie, die basiese uitgangspunt in ’n droog­testrategie wees; hoewel dit baie moeilik is om te handhaaf tydens rampdroogtes soos die huidige een.

Die benadering tot droogtevoeding sal van streek tot streek verskil en kan die vorm aanneem van oorlewingsvoeding tydens rampdroogtes waar diere van die veld onttrek moet word tot onderhoudsvoeding, waar kernkuddediere slegs genoeg voer ontvang om hulle liggaamsmassa te handhaaf of selfs net te oorleef.

Die volgende praktiese wenke mag help met besluitneming tydens rampdroogtes.

Voerbenodighede met kraalvoeding: Een 60-kg ooi benodig sowat 1,5 kg droëmateriaal per dag om haar liggaamsmassa te handhaaf.

’n Trop van 100 ooie benodig dus sowat 55 ton voer per jaar. Indien goedkoop of eie geprodu­seerde voer beskikbaar is teen sowat R2 000 per ton, kos dit R110 000 per 100 ooie of R1 110 per ooi per jaar aan slegs onderhoudsvoer. Indien die ooi in produksie is, praat ons van ten minste 2,3 kg droëmateriaal per ooi per dag. Met ’n prys van R2 500 per ton vir voer kos dit dus R2 100 per ooi per jaar slegs aan voer, sonder voerkoste vir die lam.

Indien moontlik moet die getal diere wat ten vol­le gevoer moet word, beperk word, anders kan die koste van voer die waarde van die diere oorskrei.

Koste en waarde van voer: Die totaal verteerbare voedingstof (TVV) en ruproteïen-inhoud van enkele van die belangrikste rou grondstowwe vir veevoer (100% droëmateriaal-basis) in tabelvorm.

Tydens droogtes is veral die energie-inhoud (en dus TVV) van belang, hoewel die ruproteïen-inhoud ook ’n belangrike rol speel in koste van voer. Proteïen-tekorte kan egter in onderhoudsvoer met redelik bekostigbare nie-proteïen stikstof (NPN in die vorm van byvoorbeeld ureum) aangevul word.

Dit is dus belangrik om die waarde van voer met die prys te vergelyk om ’n ingeligte besluit te kan neem.

Waar eie geproduseerde ruvoer ’n belang-rike bron van droogtevoeding is, is dit moontlik dat dit beter mag wees om konsentrate as aanvulling in plaas van ruvoer aan te koop weens die hoë vervoerkoste van veral laegraadse ruvoer.

Voedingstofbehoeftes van diere: Produserende diere en jong groeiende diere het ’n baie hoër voedingstof-behoefte as diere wat slegs gevoer word vir onderhoud. Dragtige diere moet ook ’n hoër kwaliteit voer ontvang weens die beperking op die rumen as gevolg van die spasie wat die fetus in beslag neem. Die tabel bo-aan die volgende kolom gee die voe­dings­behoeftes van onderskeidelik droë, dragtige en lakterende Suid-Afrikaanse Vleismerino- en Merino-ooie weer.

Die energiebehoeftes van lakterende ooie is so-wat 2,5 maal hoër en die proteïenbehoefte sowat drie maal hoër as dié van ’n droë ooi. Indien moontlik is dit noodsaaklik om die nageslag so gou as moontlik te speen sodat die ma kan oorleef.

Aanpassing vanaf die veld: Diere vanaf die veld of honger diere wat te vinnig aan hoëstysel­dië­te blootgestel word, vrek maklik as gevolg van asidose of suurpens. Dit is dus noodsaaklik dat die diere oor ’n tyd­perk van ten minste twee weke aan­gepas word deur die eerste week slegs 300 g konsentraat plus hooi en die tweede week slegs 500 g konsentraat plus hooi te voorsien. Daarna kan die gekonsentreerde voer vrylik voorsien word.

Dit is uiters belangrik dat die voer steeds goed gebuffer is deur voldoende insluiting van voerkalk, koeksoda of ander kommersïele buffers. Indien die konsentraatvoere met hoë vlakke stysel nie goed gebuffer is nie, sal die diere swak produseer en chroniese diaree hê.

Aanvang van droogtevoeding: Volgens Jacobs en Hayward (1981) moet met byvoeding begin word voordat ooie in ’n goeie kon­disie meer as 15% van hulle aanvanklike massa verloor het.

Voerbronne: Wanneer daar genoeg ruvoer op die veld beskikbaar is, is dit lonend om die diere slegs van ’n produksielek te voorsien wat daarop gemik is om die dier se rumen asook inname van weiding vanaf die veld, te stimuleer.

Dit is sowat vyf maal duurder om diere intensief in krale te voer as op weiding. Dit is belangrik om genoeg vreetspasie toe te laat waar diere intensief gevoer word. Wanneer lekke voorsien word met ureum en groeistimulante moet diere vir die eerste week skoon sout ontvang.

Op die tabel wat op bladsy 9 verskyn, is ’n voorbeeld van ’n produksielek wat self gemeng kan word en daarop gemik is om die rumen en wei-dingsinname te stimuleer.

Droogtevoeding is ingewikkeld en die produsent kom voor ’n ingewikkelde reeks besluite te staan.

Hoewel droogtevoe­ding duur is, behoort die pro­dusent te probeer om sy basiskudde ten alle kos­te te behou. Dié kernkudde ken die plaas en is aangepas in die omgewing en op die spesifieke veld.

Na die droogte sal dit ook baie moeilik en duur wees om weer goeie gehalte teeldiere te bekom.

• Prof Ters Brand is verbonde aan die Direkto­raat Veekundige Wetenskappe by die Wes-Kaapse Departement Landbou.

Log in with your credentials

Forgot your details?