Senior kampioen Chianinabul van Oudtshoorn

Elmarie Rabie van Rooiheuwel by haar pragtige kampioenbul, Gladiator, van die Chianina-ras. Foto Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
’N CHIANINA-BUL van Oudtshoorn, Gladiator, is as die reserwe-kampioen aangewys by verlede week se BKB African Livestock Expo (ALE) op Parys in die Vrystaat.

Sowat 800 beeste en 200 beesienaars het die lang pad na Parys aangepak waar hierdie skou vanaf 3 tot 7 September plaasgevind het.

Elmarie Rabie en haar man, Marthinus, eienaars van Gladiator het sowat 15 uur met vier beeste soontoe gery.

18 beesrasse is die week geskou.

Die Chianina is die oudste aangetekende beesras en is afkomstig van Italië.

Die Chianina-beeste op die skou is deur dr Matteo Ridolfi van Italië, kenner in dié veld, die eerste keer hier beoor­deel.

Rabie het met nog drie titels weggestap.

Haar Chianina-koei, Giolette, wat 14 maande oud is is as kampioenkoei in die kategorie een tot twee jaar aangewys, terwyl haar bulletjie Lorenzo van 15 maande oud derde was in die een tot twee jaar-kategorie.

Albei is Gladiator se nageslag en in Oudts­hoorn op Rabie se plaas geteel.

Gladiator is ook as kampioen aangewys in die senior-bulkategorie, en was ook die algehele reserwebul.

“Hierdie is beslis ’n groot eer vir Oudtshoorn, omdat dit nie net Chianinas in Suid-Afrika was wat deelgeneem het nie, maar uit die hele suiderpunt van Afrika,” sê Rabie.

Sy het Gladiator in 2011 gekry, en oorspronklik gebruik vir kruistelings, maar teel vanaf 2017 net suiwer Chianinas.

“Ons het fenomenale resultate,” sê sy.

Die ras is gehard en vaar baie goed in uiterste omgewingstoestande en is ook bekend vir hul goeie temperament.

Koeie kalf maklik omdat hulle ’n fyn beenstruktuur het asook ’n relatief klein en smal koppie, en die kalf lank en nie breed is nie!

Die vleis is sappig, hoog in proteïen (20% +) en laag in cholesterol (slegs 53 mg per 100 g vleis), met ’n uitstekende uitslagpersentasie van 63% tot 65%.

Hierdie beeste is nie net die oudste beesras nie, maar beslis een van die grootste.

Gladiator is 12 jaar oud, ongeveer 1,8 m hoog en weeg sowat 1,3 ton. Wanneer Rabie langs hom staan, is sy skaars hoër as dié bul!

Log in with your credentials

Forgot your details?