Moenie Agri Expo misloop!

MEER as 50 uitstallers van plaasimplemente en landbouverwante produkte neem volgende Donderdag (18 Oktober) aan die tweede Kango Agri Expo by Kamnatieloop oos van Oudtshoorn deel.

Maak ’n knoop in jou oor, skryf dit in jou dagboek, én vra jou kinders om jou te herinner… om hierdie Expo, in ’n opbouende en ontspanne plaasomgewing, by te woon.

Die hekke open reeds om 09:00. Aanwysings na Kamnatieloop sal by die spoorwegbrug in Langenhovenweg begin.

Kobus Theron van Klein Karoo Agri wat by die organisering van die dag betrokke is, sê die Expo word om 10:00 “vinnig” amptelik geopen, waarna die publiek kans kry om met verskaffers te gesels.

Demonstrasies van saadbedvoorbereiding en spuitkalibrering vind van 11:00 af al om die uur plaas, met kleiner, informele demonstrasies by die stalletjies self. “Die idee is om besoekers kans te gee om informeel te gesels met besighede wat die landbousektor bedien,” sê Theron.

’n Paar antieke trekkers sal ook uitgestal word.

Klein Karoo Saadproduksie en die Kangovalleie Boerevereniging neem vanjaar die voortou om te wys dat vennootskappe en samewerkingsooreenkomste die manier is om hande te vat en ’n expo van hierdie omvang aan te bied.

Benewens landbouverwante uitstallings sal daar tien kosstalletjies wees.
Vir navrae kan Susan Botha (0835005900) Chris Botha (0842502484) en Kobus Theron (079 619 0124) gekontak word

Log in with your credentials

Forgot your details?