Leer by leeus oor samewerking

Niël Steinmann, ge-sels oor leeus en samewerking.

“SUKSES gaan oor hoe goed ons saamwerk.”

Dit was die kern van die boodskap van Niël Steinmann, sakekonsultant en motiveringspreker, aan saadprodusente by Klein Karoo Saadproduksie (KKSP) se gala-aand.

Steinmann het oor die konsep van sinergie gepraat en analogieë uit die natuur, onder meer oor hoe ’n trop leeus saamwerk, gebruik in sy verwysings na die belangrikheid van spanwerk.

Volgens Steinmann behels die begrip van sinergie dat ’n bedryf volhoubaar moet wees vir die volgende geslag maar ook dat “die som van een plus een meer as twee moet wees”.

Steinman sê leeus het hom baie geleer van hoe ’n groep as ’n eenheid suksesvol kan saamwerk.

“Die sukses van ’n trop lê by die wyfies. Dit gebeur in party troppe dat die wyfies in ’n trop so gesinchroniseerd begin saamwerk dat hulle selfs op dieselfde tyd hul kleintjies kry.”

Hy het gewys op die belangrikheid van wat hy bestempel het as die “ses beginsels van sinergie”:

• Kyk met jou ore – ken jou terrein en verstaan wat jou kompetisie doen. Verstaan hoe belangrik is verhoudings en netwerke.

• Bepaal wat is jou sterkpunte en almal in jou besigheid se sterkpunte. Sterkpunte is nie noodwendig dit wat jy goed doen nie, maar eerder waar­oor ’n mens passievol is.

• Wat is die “rituele” wat jou trop sterker maak? Die beste spanne doen dinge saam en is sterker saam as elkeen op hul eie. Eerlike gesprekke en mentorskap binne ’n groep is belangrik.

• Vertroue is volgens Steinmann die kernelement van sinergie.

• ’n Ingesteldheid op dieselfde doelwitte – ’n groep wildehonde saam kan byvoorbeeld ’n blou-wildebees vang, iets wat hulle nie afsonderlik op hul eie kan doen nie.

• Onderhoud (“maintenance”) – dit is be­langrik om te meet wat jy doen, en te stop en uit jou foute te leer.

Log in with your credentials

Forgot your details?