Klein Karoo Saadproduksie hou Saad Rally

Deelnemers aan Klein Karoo Saadproduksie se Saad Rally besoek ’n uieland op die Te Vrede Landgoed. Foto’s deur Ilse Jordan

DIE Saad Rally wat deur Klein Karoo Saadproduksie (KKSP) verlede Woensdag (16 Oktober) vir sy saadprodusente aangebied is, was nie net baie leersaam nie, maar is opvallend baie deur die deelnemers geniet.

Die rally het om 09:00 by Bella De Karoo langs die R62 tussen Oudtshoorn en Calitzdorp begin en 70 km later omstreeks 14:00 weer daar geëindig.

By die wegspring het elke deelnemer ’n lekker “Goodie Bag” ontvang met onder meer ’n voor-skoot, ’n maatband, ’n pet en ’n verestoffer.

Die belangrikste punte op die roete was die Te Vrede Landgoed, De Krans Wyne op Calitzdorp, die plaas Rooikloof en Louis Zaayman Boerdery.

By Bella De Karoo is die deelnemers ingelig oor wat die rally behels. Daar was ook ’n uitstalling van onder meer implemente.

Altesame 39 spanne met 119 deelnemers het ingeskryf. Elke span het ’n antwoordstel met dertig multikeusevrae ontvang. Die vrae was onder meer oor onkruidbeheer, saad en simptome van saadsiektes, plantsiektes, droogstoortoestande, wortels, uie, bye, bestuiwing en saadaanplantings.

Die tien besoekpunte op die roete is deur KKSP-personeel beman. By elke punt moes deelnemers twee tot drie multikeusevrae beantwoord.

Langs die roete was ook twee verversingspunte om seker te maak deelnemers raak nie te honger of dors nie.

By van die ander punte moes deelnemers skyfskiet, die afstand na die gat in die Redstone Hills skat en vrae antwoord oor wyn.

Die pryse vir die wenners was ’n handige induksieplaat, ’n ketel en kastrolle van Snappy Chef. Die naaswenners het onder meer kampstoele, ’n slypstel en ’n mes gewen. Die prys vir die derde plek was ’n fles, messe en ’n skerp LED-flits.

Deelnemers by Bella De Karoo, wegspringplek van die Saad Rally.

Deel van die uitstalling van implemente by Bella De Karoo.

Tydens ’n kennismaking met Ella, ’n eland op die Te Vrede Landgoed, moes deelnemers raai hoeveel melk ’n elandkoei lewer. Die antwoord is 7 liter per dag.

Oubaas Schoeman (middel) van die De Rust-Oosspan wat die Saad Rally gewen het. By hom is David Malan en Pieter Burger.

Celia le Roux, enigste deelnemer aan die Saad Rally wat die vrae by De Krans oor wyn korrek kon beantwoord, saam met die ander lede van die De Rust Oos-span, van links Oubaas Schoeman, Pietman Schoeman en Phillip Hanbury.

Die naaswenners van die Saad Rally is (van links) Johan Olivier, Flip Olivier, Coetzee Laubscher en André Olivier van die Rooistraatspan.

David Malan saam met Duo Faure (links) en Jan Crafford van die Barrydale-span wat derde in die Saad Rally was.

Heinn Havinga (links) en Robert Brown van die Sheriffs wat die prys ontvang het vir die span met die beste gees.

Joey en Ria Potgieter (links) en Elsabe en Willie Visagie kom by De Krans aan tydens die Saad Rally.

Om ’n af­stand te skat, was deel van die vraestel wat deelnemers moes voltooi. Hier gebruik ’n deelnemer die duim-metode.

Skyfskiet was een van die aktiwiteite waarmee deelnemers aan die Saad Rally punte kon verwerf het.

Personeel van Klein Karoo Saadproduksie wat moes verseker dat alles glad verloop tydens die Saad Rally.

Log in with your credentials

Forgot your details?