Kango Agri Expo: Landbouprodusente blootgestel aan jongste landboutegnologie

Van die lede van die reëlingskomitee wat die Kango Agri Expo organi-seer het, is van links Francois de Kock, Hennie-Edna Janse van Rensburg, Kobus Theron, Susan en Chris Botha en David Malan.

BAIE positiewe terugvoer is ontvang oor die Kango Agri Expo wat verlede Donderdag, (18 Oktober) by Kamnatieloop, proefplaas van Klein Karoo Saadproduksie op die Rooiheuwelpad oos van Oudtshoorn, plaasgevind het.

Volgens Chris Botha, voorsitter van die boerevereniging, het van die boere hul waardering uitgespreek dat so ’n expo plaaslik aangebied is. Nie almal kry kans om by ander groot skoue en expo’s uit te kom nie.

“Hulle is by ons Expo blootgestel aan die nuutste landboutegnologie en -metodes asook saadproduksiemetodes.
“Van hulle het ook gesê dit is goed om te weet dat van die geld wat met die expo ingekry word, aangewend word tot voordeel van plaaslike gemeenskappe,” het Botha gesê.

Die feit dat die expo bygewoon is deur heelparty boere wat van ver af gekom het, was veral vir die uitstallers goed deurdat hulle nuwe potensiële kliënte ontmoet het.

Die geleentheid om te kon netwerk en blootstelling te kry, was ook waardevol vir die uitstallers.

Gedurende die oggend is ook verskeie demonstrasies met trekkers en landbou-implemente gehou. ’n Paar outydse trekkertjies het die die geleentheid gekry om hul slag op die landerye te wys.

Altesame 47 verskaffers aan die landboubedryf het stalletjies by die expo gehad. Daar was ook ses kosstalletjies. Hoewel landbouprodusente gekom en gegaan het, was daar op een gegewe tydstip meer as 350 landbouprodusente en ander besoekers.

Chris Botha, voorsitter van Kangovalleie Boerevereniging, verwelkom boere by Kango Agri Expo.

Van die outydse trekkers wat by die Expo te sien was. Regs bo is een van die ou trekkers in aksie.

Dié grondbewaringsimplement, wat plantreste en ander plantmateriaal opsny en in die boonste deel van die grond inwerk, is een van die implemente wat by die Expo gedemonstreer is.

Dié krageg waarmee ’n perfekte saadbed voorberei kan word, is ook gedemonstreer.

Log in with your credentials

Forgot your details?