Hulp vir boere in nood

Selfs die onkruid het ophou groei
’n Lusernland, net buite Oudtshoorn, is nou net stowwerig en droog en lê ongebruik weens die groot watertekort. Nie eers die onkruid groei meer hier nie, alle plantelewe is dood. Daar is ook geen teken van reën of wolke op die horison nie. Foto Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
ALLE boere van die Oudtshoorn-streek, wat hulp benodig, neem asseblief kennis – hier is hulp vir julle.
Lucas van der Merwe, eienaar van Ziphi Nkomo Group of Companies, bring die volgende inisiatief na Oudtshoorn in samewerking met Die Hoorn.

Daar word beoog om droogtehulp vir boere in nood te bied, maar die projek sal in verskeie fases geskied.
Die eerste fase hiervan is die boor van twee boorgate vir twee boere wat dit nodig het, en nie oor voldoende fondse daarvoor beskik nie.

Belangstellende boere kan Die Hoorn kontak. Stuur ’n e-pos na joernalis@hoorn.co.za of kontak Angelique Erasmus by selnr 071 365 7978.

Die volgende inligting moet by die e-pos of boodskap inge­sluit word:
• Naam en van;
• Kontaknommer;
• Plaas en gebied; en
• Motivering.

Alle inligting sal vertroulik hanteer word.

Hierdie is slegs die begin van ’n langtermyn-projek, met bykomende droogtehulp wat einde Oktober vir Oudtshoorn beoog word.

Die omvang van die droogtehulp sal bepaal word op grond van wat boere benodig en waar die nood die hoogste is.

Voorstelle moet so spoedig moontlik aan Die Hoorn ge­stuur word sodat die nodige data ingesamel kan word.

• Oudtshoorn en omliggende streke gaan tans gebuk onder die ergste droogte in onlangse menseheugenis, met groot watertekorte. Selfs die watervlak van Oudtshoorn se opgaardamme lê al onder die 40%-merk.

Die 3 mm reën wat verlede week op Oudtshoorn gemeet is, is verwelkom, maar het weinig verligting gebring.

Log in with your credentials

Forgot your details?