Goeie pryse vir broeivolstruise

Van die volstruise wat opgeveil is. Foto  verskaf

By die veiling was van links prof Schalk Cloete (Departement Landbou), dr Zanell Brand (Departement Landbou), dr Chris de Brouwer (Departement Landbou), PA Geldenhuys (afslaer, Klein Karoo Veilings & Veebemarking), Gert Laubscher (bemarker, Klein Karoo Veilings & Veebemarking), Jurie Klue (volstruisboer en koper) en dr Anel Engelbrecht (Departement Landbou). Foto verskaf

DIE Wes-Kaapse Departement van Landbou het op 12 Maart 160 geselekteerde broeivolstruise verkoop tydens die 15de produksieveiling aangebied op die Oudtshoorn Navorsingsplaas, in samewerking met

Klein Karoo Veilings & Veebemarking – wat die tender gekry het vir die hantering van die veiling.

Die gemiddelde prys waarvoor die volstruise verkoop is, was ongeveer R5 500, wat aansienlik hoër is as die hoogste prys van R4 100 wat laas jaar op die veiling behaal is. Dié positiewe ople­wing in die bedryf volg te midde van die voortslepende droogte in die gebied, na die onlangse nuus dat die volstruisbedryf weer geprosesseerde vleis kan uitvoer na die Europese Unie.

Die broeivolstruise word per katalogus verkoop met inligting van elke volstruis se ouderdom, gewig en teeltwaardes.

’n Tweejaar-oue wyfie met ’n hoë teeltwaarde vir gewig het die hoogste prys van R9 200 behaal.

Die mannetjie wat die hoogste prys van R6 000 behaal het, het ’n groot negatiewe teeltwaarde vir die voorkoms van haarfollikels op velle.

Haarfollikels is gaatjies wat op die verwerkte velle sigbaar is en word as onwenslik beskou omdat dit afbreek doen aan die kwaliteit van die leer. Die gaatjies is die gevolg van fyn haartjies of veertjies wat op die velle voorkom.

Navorsing van Dr Anel Engelbrecht (wetenskaplike by die Oudtshoorn Navorsingsplaas) het bepaal dat die voorkoms van hare hoogs oorerflik is. Daar kan gevolglik daarteen geselekteer word.

Hierdie was die eerste veiling waar daar teeltwaardes vir die voorkoms van haarfollikels beskikbaar gestel is.

Dr Schalk Cloete (spesialis-wetenskaplike by die Elsenburg Navorsingsentrum) het ’n meereienskapontleding gedoen wat beide die evaluering van hare op volstruise, asook die evaluering van die haarfollikels op die velle in ag geneem het om ’n teeltwaarde vir haarfollikels te kon bereken.

Die veiling is goed bygewoon, met 15 kopers wat geregistreer het om te koop.

Jurie Klue van Klaarstroom het die meeste volstruise gekoop, met 12 mannetjies en 44 wyfies.

Die volstruise is afkomstig van die hulpbronkudde op die navorsingsplaas wat reeds sedert 1996 seleksielyne het vir reproduksie en gewig, onderskeidelik.

Die Departement stel elke jaar nageslag van die kudde beskikbaar op die produksieveiling sodat die bedryf direk kan baat by die teeltvordering wat gemaak word op die navorsingsplaas. Die feit dat produsente bereid is om te belê in teeltmateriaal is baie bemoedigend vir die toekoms van die bedryf en sal help om die effektiwiteit van die bedryf op die langtermyn te verhoog.

Log in with your credentials

Forgot your details?