Droogte: Toekoms is duister vir baie boere

Onder diegene by Dinsdag, 5 Maart, se streekkongres van Agri Wes-Kaap (AWK) in die Boeresaal op Oudtshoorn was van links Louis Wessels, regsbestuurder: AWK, Joey Potgieter, voorsitter: Agri Klein Karoo, Cornie Swart, president: AWK, Jannie Strydom, hoof-uitvoerende beampte: AWK, Tertius Schoeman, prokureur van George wat as gasspreker opgetree het, en Hugo de Waal, visie-president: AWK.

DIT gaan weens die huidige droogte in baie landbouproduksiegebiede só sleg dat daar vir baie produsente nie ’n volgende jaar gaan wees nie, het Cornie Swart, president van Agri Wes-Kaap, verlede Dinsdag by dié landbou-organisasie se streekkongres op Oudtshoorn gesê.

“Boere in die Klein-Karoo sê hulle het geen toekomsvisie meer sou dit weer dié winter nie reën nie.

Hulle kan hulle bloot nie indink hoe dit dán sal wees nie,” het hy gesê.

In sommige gebiede is produsente al vir ’n vyfde jaar van droogtehulp afhanklik.

Volgens Swart word die waterkrisis vererger deur die departement Water en Sanitasie se totale onvermoë en onbevoegdheid om water as ’n kritieke natuurlike hulpbron vir alle inwoners van die land doeltreffend te bestuur.

Hy het verwys na die provinsiale en nasionale regering wat al miljoene rande vir droogtehulp bewillig het om diere aan die lewe te hou.

Baie produsente wat met aartappels, graan, druiwe, perskes en ander groente en vrugte boer, kry egter geen hulp nie. Dié probleem moet aangespreek word, het Swart gesê.

“Die droogte dwing boere om be­sluite te neem, waarvan die moeilikste is of jy gaan tou opgooi, en of jy gaan bly en planne maak.

“Produsente moet ingelig wees, tendense raaksien en die regte besluite neem om aan te pas. Ons gaan belangrike keuses moet maak om volhoubaar en ekonomies gedrewe vorentoe te kan leef. Bly oopkop en wees buigbaar, want om jou besluite aan te pas wanneer nuwe inligting jou pad kruis, is juis wat ons veerkragtigheid verseker.”

Swart het gesê daar word na die landbou gekyk om werk te skep. “Landbou kan net werk skep as dit goed gaan. Maar dit gaan nie tans goed nie. Ons sit van die begin van die jaar af met ’n nasionale minimumloon, wat ons moet sien teen die agtergrond van die Nasionale Ontwikkelingsplan wat die verwagting skep dat landbou teen 2030 ’n bykomende miljoen werksgeleenthede gaan skep.

“Wat die gevolge van die minimumloon vir ons reeds kwesbare sektor gaan wees, sal ons sekerlik binnekort sien. Dit is veral in die arbeidsintensiewe bedryfsvertakkinge waar daar van plaas tot plaas nou besluite geneem sal moet word oor watter aanpassings nodig is om kop bo water te hou. Struk-tuur­aanpassings is onafwendbaar, veral as hoër brandstof- en waterpryse en ’n waarskynlike skerp styging in elektrisiteitstariewe ook in ag geneem word.

“Die landbousektor is onder geweldige druk en verdien die ondersteuning van die regering. Die regering moet nou ’n keuse maak: kies hy om moeilike langtermynbesluite in die belang van die land te neem, of gaan hy populistiese besluite neem ter wille van sy korttermynsteun, veral met die komende verkiesing,” het Swart gesê.

In die verkiesingsjaar is georganiseerde landbou se versoek aan die regering baie duidelik:
• Gee beleidsekerheid deur dié klousules wat vir onteiening sonder vergoeding voorsiening maak, te definieer;

• Versnel droogtehulpbystand;

• Prioritiseer die funksionele kapasiteit van die Departement van Water. Begroot vir en implementeer water-opgaarkapasiteit op pla-se, sowel as damkapasiteit om aan stedelinge en landelike bewoners te voorsien;

• Implementeer en finansier die landelike veiligheidstrategie behoorlik;

• Stig en finansier ’n behoorlike landbou-ontwikkelingsfonds; en

• Luister behoorlik na die nasionale minimumloonkommissie se se voorstelle.

Volgens Swart is landbou die bes-geposisioneerde sektor vir die regering om sy energie op te fokus.

Nasionale prioriteite soos werk-skepping, ekonomiese groei, maatskaplike stabiliteit en transformasie gaan die beste teweeg gebring word as die regering gaan kies om hul hulpbronne in die landbou te belê.

“Deur Agri Wes-Kaap se beleidskomitees, en via Agri SA, bly ons daartoe verbind om ons te beywer vir ondersteunende beleidsuitkomste,” het hy gesê. (Berig deur Schalk le Roux)

Log in with your credentials

Forgot your details?