De Rustica skitter wêreldwyd: Coratina die beste in die Suidelike Halfrond

3de agtereenvolgende jaar in Absa Toptien
Joop Steenkamp, algemene bestuurder van De Rustica, en Precilla Steenkamp, bemarkingsbestuurder, met die 2019 Absa toptien-toekenning. Foto Facebook

’N OLYFOLIE van die De Rustica Olive Estate buite De Rust het die uitsonderlike prestasie behaal om ’n goue toekenning los te slaan vir sy enkelvariëteit Coratina tydens die Internationale Sol D’Oro, Suidelike Halfrond kompetisie.

Dié kompetisie is op 27 September in Peru aangebied en word elke jaar in ’n ander land in die Suidelike Halfrond aangebied. Die kompetisie sluit die lande Peru, Chili, Suid-Afrika, Australië, Argentinië, Uruguay en Brasilië in. Daar word net een goue toekenning in elk van die drie kategorieë in die kompetisie toegeken.

Die drie kategorieë is fyn vrugtigheid, medium vrugtigheid en intense vrugtigheid.
Ander olyfolies wat ‘n punt van 70/90 of hoër behaal, ontvang spesiale vermeldings. De Rustica Estate het spesiale vermelding ontvang vir hul Estate Range Medium.

“Ons glo by De Rustica dat kwaliteit sinoniem is met ons naam en ons streef na slegs die beste kwaliteit met elke jaar se oes,” sê Joop Steenkamp, algemene bestuurder. “Ons het vanjaar ’n uiterste droogte beleef en steeds daarin geslaag om met topgehalte olyfolie prestigeryke toekennings te wen.”

De Rustica se Estate Collection Single Cultivar Coratina het ook vanjaar plaaslik geskitter toe dit aangewys is as een van die Absa se toptien-olyf-olies in Suid-Afrika. Die Absa toptien-inisiatief bestaan sedert 2017 met De Rustica wat nog elke jaar ’n olyfolie onder die toptien gehad het.

In 2017 was die Estate Collection Single Cultivar Coratina ook onder die toptien en in 2018 het die Estate Collection Single Cultivar Frantoio dié prestasie behaal.

Log in with your credentials

Forgot your details?