Booi Nace maak organiese kompos met erdwurms

Bo en onder: Booi Nace met van sy organiese erdwurmkompos. Foto: Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux
HY het sowat tien jaar gelede saam met ’n groepie vriende en familielede begin met sy boerdery met rooi Kariba-erdwurms, vertel Booi Nace van Bongolethu in Oudtshoorn, wat met geesdrif oor die voordele van erdwurms in ’n tuin of op die landerye gesels.

Maar behalwe vir sy vrygewigheid met raad oor hoe om jou eie komposhoop met die hulp van erdwurms te begin, of hoe om jou eie erdwurmboerdery aan die gang te kry, verkoop hy ook aan belangstellendes kompos, erdwurms en erdwurmtee.

Erdwurms het baie voordele, maar een daarvan is dat dit die gehalte van die grond verbeter, sê Nace.
Die rooi Kariba-erdwurms werk vinniger as ander erdwurms en maak tonnels onder die grond tot by bome se wortels. Dit maak harde grond los en verbeter die vermoë van die grond om water te absorbeer en saam met belangrike plantvoedsel tot by plantwortels te kry.

Omdat die erdwurms so vinnig werk, is hulle ook ideaal om jou plantmateriaal af te breek tot lieflike kompos gereed om in ’n tuin in te spit.

“Ek wil mense aanmoedig om op ’n organiese manier tuin te maak en te boer,” sê Nace.
Nace verkoop ook “erdwurmtee”, die water wat afloop uit die kompos tydens die proses wat die erdwurms plantmateriaal tot kompos verfyn.

Volgens hom is die “tee” gemeng met water – een deel tee met tien dele water in ’n spuitbotteltjie – die ideale manier om plante teen insekte en goggas te beskerm, en is dit ook gesond vir plante.
Hy sê dit is al wat hy vir en op sy welige groente- en ander plantjies in sy klein tuintjie gebruik.

Die smal ruimte agter sy huurhuis maak dit nie vir Nace moontlik om sy boerdery in dié stadium te vergroot nie, iets wat hy graag eendag sal wil doen.

• Kontak Booi Nace by 062 719 1549.

Log in with your credentials

Forgot your details?