Plaaslike kunstenaar se beeld nou by gastehuis

Hier is Hannes Oosthuizen saam met Bergie, die sandsteenbeeld wat hy vir Terrapin Garden, ’n gastehuis op Oudtshoorn, ontwerp en installeer het.     Foto: Ilze-Mari Gründling

Hier is Hannes Oosthuizen saam met Bergie, die sandsteenbeeld wat hy vir Terrapin Garden, ’n gastehuis op Oudtshoorn, ontwerp en installeer het. Foto: Ilze-Mari Gründling

Deur Ilze-Mari Gründling
DAAR is ’n nuwe inwoner by die Terrapin Garden Gastehuis op Oudtshoorn – sy naam is Bergie en hy is van sandsteen!

’n Beeldhouer van Oudtshoorn, Hannes Oosthuizen, het die skilpadbeeld oor ’n tydperk van drie maande uit sandsteen geskep.

“Die eienaars van Terrapin Garden, Cecil Herselman en sy vrou Sharon, het een van my beelde by ’n ander restaurant gesien en my toe gevra om een vir hulle te ontwerp wat by hul tema pas. Omdat hulle my gevra het, kon hulle die beeld se naam kies. Dit is interessant omdat dit my bynaam op skool was!”
Oosthuizen vertel dat hy al vanaf ’n jong ouder­dom “kuns maak”.

“Toe ek sewe was het ek ’n perfekte tekening gemaak en almal was verbaas daaroor. Ek het ’n trofee daarvoor gewen. Van toe af het ek maar altyd iets kunstig gedoen.”

Oosthuizen is ’n oud-leerder van Langenhoven Gimnasium en het na skool op Stellenbosch studeer. “Ek het nooit opgehou kuns maak nie. Op universiteit het ek altyd my een vriend, wat kuns studeer het, gehelp met sy take. Intussen het ek al met fotografie, houtskool, spuitverf en tekeninge geëksperimenteer.”

Oosthuizen werk nou al vir drie jaar met sandsteen en vertel dat hy ’n band met die klip het.
“Dit het begin toe my broer eendag ’n muur afgebreek het en gevra of ek die klip wou hê. Party mense skenk dit ook aan my. Ek gebruik beitels en boorpunte om die klip te sny en graveer. Daarna sit ek vernis op die beelde sodat dit langer hou.”

Hy glo dat ’n mens van kuns kan lewe en dat dit nie nodig is om ’n miljoenêr te wees nie.
“Ek is nie ryk nie; ek is dalk ’n miljoenêr as gevolg van die liefde in my hart, maar om van kuns te lewe is nie ’n slegte ding nie. Mense moet vergeet van die reëls en stigma wat jou in ’n hoekie vasdruk. Om kuns te maak is baie belonend.”

Oosthuizen vertel dat hy binnekort nuwe dinge wil probeer en meer wil eksperimenteer.
Hy is ook in die proses om ’n gemeenskaps-galery te open waar enigiemand welkom is om hul werk uit te stal.

Vir navrae kan hy gekontak word by sel 063 047 0899.

Be the first to comment on "Plaaslike kunstenaar se beeld nou by gastehuis"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*