Kaartjies vir opwindende negende Klein Karoo Klassique vanaf vandag te koop

Die kitaarduo, CH2, Corneille Hutten en Dirkie van Staden open vanjaar se Klein Karoo Klassique.

Die kitaarduo CH2 (Corneille Hutten en Dirkie van Staden) open vanjaar se Klein Karoo Klassique.

KAARTJIES vir vanjaar se negende Klein Karoo Klassique wat van 11 tot 13 Augustus op Oudtshoorn plaasvind, is van vandag af te koop.

“Voornemende feesgangers moet gou speel om die winskooppakket, wat altyd blitsvinnig uitverkoop, te bekom,” sê Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, wat hierdie fees aanbied.

Dié pakket van R700 bied toegang tot al agt uitvoerings teen ’n gemiddelde prys van R87,50 per uitvoering. Sou kaartjies na uitvoerings apart gekoop word, sal dit R1 000 kos.

“Die pakket bied ’n stewige besparing van R300,” sê Snyman.

Volgens Snyman word vanjaar se feesprogram gekenmerk deur verskeidenheid en waarde vir geld. Danksy finansiële ondersteuning deur die Rupert Musiekstigting is daar vanjaar agt vertonings teenoor verlede jaar se sewe, en kan kaartjiepryse dieselfde bly as verlede jaar.

Klassique skop vanjaar ad met die dubbel-SAMA-bekroonde kitaarduo, CH2, Corneille Hutten en Dirkie van Staden. Hulle speel klassieke meesterstukke van Tárrega, Rodrigo, Bach, hul eie flamenco-styl komposisies en ook verwerkings van Afrikaanse treffers soos Tussen treine en Vyfster.

Saterdag se program begin met Vivaldi se Vier Seisoene Herbesoek. Petrus de Beer (viool), Stanislav Angelov (trekklavier) en Schalk Joubert (baskitaar en voordrag) verwerk Vivaldi se tydlose meesterstuk, sonder bystand van ’n strykorkes, waarvoor dit oorspronklik gekomponeer is. Die sonnette is spesiaal deur dr. Dawid de Villiers uit Italiaans in Afrikaans vertaal.

Daarna speel die Camerata Tinta Barocca met Bridget Rennie-Salonen (traverso), Jesse Groenewald (barokviool), Uwe Grosser (teorbe en barokkitaar), Cheryl de Havilland (baroktjello) en Erik Dippenaar (spinet) ’n program van barokmusiek. Folk Baroque word uitgevoer op outentieke barokinstrumente en sluit musiek van Barsanti, Geminiani, Scarlatti en Gow in.

In Alleenstryd bring Minette du Toit-Pearce (mezzo-sopraan), Lauren Dasappa (sopraan), Jolene McCleland (mezzo-sopraan), José Dias (klavier) en Visser Liebenberg (klarinet) hulde aan Hendrik Hofmeyr, wat vanjaar 60 word. Die samestelling en voordrag word deur Niël Rademan behartig. Hofmeyr maak ’n gasoptrede. Alleenstryd bied ’n klein blik op die vokale komposisies van dié musikale reus.

Saterdag se program word afgesluit met Carmen – in die kleine, ’n konsertweergawe van een van die gewildste operas in die klassieke kanon, spesiaal vir Klassique gereduseer tot ’n uurlange werk, sonder om die integriteit van die oorspronklike stuk in te boet. Al die hoogtepunte word chronologies voorgedra met sangers wat meer as een rol vertolk. Op die verhoog is Jolene McCleland (mezzo-sopraan), Lauren Dasappa (sopraan), Minette du Toit-Pearce (mezzo-sopraan), Chris Mostert (tenoor), Niël Rademan (bariton) en Raimondo van Staden (bariton). José Dias behartig die klavierbegeleiding.

In Spieël-dans in die maanlig, Sondagoggend, kombineer Jana van der Walt (harp) en Rina Schutte (tjello) twee gunsteling instrumente vir ’n program met uiteenlopende musiek. Hulle speel onder meer Pärt se Spiegel in Spiegel, Piazzolla se Oblivion, Clair de Lune van Debussy, Bach se Arioso en Gounod se Ave Maria.

Beethoven Tango spreek tot die ondersoekende musikale palet en kombineer die verfynde kwaliteit van Zanta Hofmeyr (viool) se klassieke tegniek, met die improvisasie toorkrag van Charl du Plessis (klavier). Hul program bring die vuur van tango-ritmes, wêreldmusiek, jazz en Beethoven byeen en sluit onder meer ’n tango-verwerking van die bekende Für Elize, in.

Die ATKV Afsluitingskonsert is ouder gewoonte ’n toonvenster vir die room van Suid-Afrika se jong klassieke musici. Megan-Geoffrey Prins (klavier) was in 2016 die wenner van ATKV-Muziq, Tatiana Thaele (fluit) die naaswenner van dié kompetisie en Palesa Malieloa (sopraan) die 2016-wenner van ATKV-Muziqanto. Thaele en Malieloa word deur Philippus Hugo op klavier begelei.

Al agt uitvoerings word in die NG Moederkerk op Oudtshoorn aangebied.

Kaartjies na uitvoerings kos R125 elk en is beskikbaar by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home.

Meer inligting oor Klein Karoo Klassique sal binnekort op die fees se nuwe webblad by www.klassique.co.za beskikbaar wees. Vir meer inligting volg Klassique op Facebook (@KleinKarooKlassique) of Twitter (@kkarooklassique).

Log in with your credentials

Forgot your details?