Die opwinding, die afwagting, die lekkerte

Cyril Clarke by die bekendstelling van die 25ste KKNK op Oudtshoorn vroeër vanjaar. Foto: Ilse Jordan

Die Hoorn skop vandeesweek af met ’n reeks waarin ons met ’n verskeidenheid mense gesels wat daar was toe die eerste KKNK in 1995 op Oudtshoorn aangebied is. Deel met ons in die opwinding van dié eerste Afrikaanse kunstefees, en die verwondering en verbasing daaroor by almal.

DIE HOORN vra vandeesweek drie vrae aan een van die stigterslede van die KKNK – die bekende onderwysman en vertaler, Cyril Clarke van Oudts­hoorn.

Vertel ons van die eerste KKNK?

Ek onthou veral die dag voor die begin van die heel eerste KKNK die opwindende afwagting in almal by die kantoor (toe nog in Foster’s Manor) en ook, vir baie van ons, die effense kommer oor wat ons gaan doen as die mense nie in groot getalle kom nie – en die eerste paar dae se verbasing en verwondering oor die baie, baie mense op Oudts­hoorn wat almal in ’n feesgees was. Ook die mees­te plaaslike mense wat opgewonde-verwonderd was oor die mense op ons dorp kom feesvier het.

Wat was jou betrokkenheid by die eerste fees?

Ek was tydens die eerste fees medeverant­woor­delik vir die opleiding van diegene (meestal skool­kinders) wat die voorportaaldienste moes doen. Vir die voorportaalpersoneel (elkeen van hulle, van kaartjieverkopers tot venue-bestuurders – ja, skielik was alle skoolsale en kerksale op Oudts­hoorn vir ’n volle sewe dae “venues”!) was dit ’n eer en groot voorreg om op dié klein manier te kon saamwerk aan die groot fees op ons dorp.

En ek onthou die lekkerte. Ons het van vroeg soggens tot laataand gewerk, maar ons was eers ná die laaste dag van die fees moeg.

En ek onthou almal (vir my het dit gevoel soos die hele dorp) se vriendelikheid en be­hulp­saam­heid met almal wat op ons dorp gekuier het.

Ek onthou ook dat ek een Saterdagmiddag stoksielalleen in die kantoor was (in die spokerige Foster’s Manor) en dat die telefoon gelui het. Ek het dit beantwoord en ’n taamlik geïrriteerde manstem het beveel dat ek hom dadelik na die logistieke afdeling moes deurskakel. Ek het toe maar verduidelik dat die logistieke afdeling iewers op die dorp besig was om iets dringends te doen en dat ek alleen op kantoor was. Daarop het die persoon my stug gevra of ek weet met wie ek praat, waarop ek natuurlik baie vriendelik gesê het dat ek nie weet nie en mooi op opregte Boereafrikaans gevra het met wie ek praat. Ek is formeel ingelig dat ek met prof De Villiers praat en dat die Libertaskoor binne-in die Van Zylsaal by ’n vleuelklavier staan wat geen noot uiter nie en dat die koor binne ’n baie kort tyd voor ’n volbespreekte Van Zylsaal moet optree. Dit het later geblyk dat die hamertjies van die klavier klam geword het en nie die snare hard genoeg kon slaan om klank voort te bring nie. Ek is trots om te kan sê dat die koor voor hulle optrede ’n werkende vleuelklavier in die Van Zylsaal gehad het (sommer geleen by een van die bekende boervroue in die Kango) en dat die uitvoering ’n reuse-sukses was!

Ek onthou die eerste Kaktus op die Vlaktes op die Rec. Ek onthou my eerste “live” kennismaking met goeie a capella-musiek (dankie Cutt Glas – ek is nou nog gek daarna en het ’n imposante CD-versameling van a capella-musiek vanoor die wêreld).

Ek onthou hoe ek saam met baie mense van oral­oor betower was deur die vuurwerkvertoning aan die einde van Kaktus begelei deur ’n dawerende uitvoering van Handel se musiek.

Waarna sien jy uit by vanjaar se 25ste fees?

Donkie van Frank Opperman – net om ’n slag te lag en te wroeg.

Jakkals en wolf onbeperk – Ek het altyd jaarliks eerste ’n kaartjie vir die pantomime gekoop, want ek wil graag iets onbevange soos ’n kind geniet.

Katvoet – ek is ’n praktiserende vertaler en mal oor ’n goed vertaalde werk en nog maller oor Tennessee Williams se werk.

My oom se vrou se plekkie – die stoute stuitig­hede en fyn kuns van goeie klugspel kielie my gesondblykliere!

My seuns – meeste families hou van ’n lekker familietwis, al probeer ons dit almal verdoesel.
Statements… – Fugard se werk het my al as boertjiestudent aangegryp en doen dit steeds.

Uit die bloute – Ek het die eerste wonderskone produksie hiervan gesien en wil dit net weer beleef. En is op universiteit in my eerste jaar op Engéne Marais gespeen.

Lynelle Kenned – Sy het ’n “formidabele” stem en sing wondermooi.

Amanda Strydom – Miss Mandy; Die onbekende Coenie; Kiekies – Lucas se liedjies – Die drie produksies is deel van my hartmusiek.

Drie van die bestes – Ek geniet hul energieke optredes. En het al hul CD’s.

Libertaskoor – Ek is net so mal oor goeie koormusiek!

Is daar enige vraag wat jy vir enige kunstenaar/regisseur/betrokke by die fees wil vra?

• As prof De Villiers nog lewe wil ek graag vir hom jammer sê en vir hom sê dat sy koor vir my van die mooiste musiek in Suid-Afrika gesing het en ek hoop hy het goed geld gemaak (van musiek-regte, ens) uit al die Libertaskoor-CD’s wat ek van die heel eerste fees af gekoop het.

• Vir al die mense van ons mooi dorp wil ek vra of hulle nie almal weer met oorgawe wil inkoop en eienaarskap neem van ons wonderlike Klein Karoo-kleinnoodfees nie.

• Vir Amanda, wat nog elke fees hier opgetree het, wil ek vra of sy al met die eerste fees geweet het hierdie fees gaan ’n kolos word.

• Vir Mathys Roets wil ek graag sê: Mathys, dankie dat jy steeds sing en dat jy opreg bly en eerlik en onbevange interpreteer. En dat jy een van die positiefste, dapperste mense is wat ek ken.

En vir Pieter en Karen en oom Jans en almal met wie ek skouers geskuur het by die fees der feeste:

Dankie vir soveel geleenthede en ervarings – nou is my jas se voering lekker dik en as ek eendag be­skore is om oud te word, weet ek dat my lewens­jas met sy ryk voering my tot “dan” toe, warm sal hou.

’n Inisiatief van Die Hoorn

Log in with your credentials

Forgot your details?