Studente takel rommel by dorpsingang

Die bevelvoerder van die Oudtshoorn Polisiekollege, kol Cynthia Basie, saam met van die studente wat rommel by die ingang van Oudtshoorn vanaf Calitzdortp opgetel het. Foto verskaf

Deur Angelique Erasmus
250 studente van die Oudtshoorn Polisie­kollege op Oudtshoorn het Saterdag­og­gend die veld oorkant die kollege getakel en skoongemaak.

Sowat 300 vullissakke is volgemaak met vullis wat by die dorpsingang vanaf Calitzdorp opgetel is.

Papier, plastiekbottels, ou klere en selfs ’n sakkie pille is tydens die skoonmaakpoging – wat drie ure geduur het – uit die veld verwyder.

Die munisipaliteit het swart sakke en handskoene vir die skoonmaakpoging aan die studente verskaf.

Kol Cynthia Basie, bevelvoerder van die kollege, het aan Die Hoorn gesê die studente leer om as deel van hul daaglikse roetine die kollegeterrein skoon, netjies en vry van rommel te hou en dat die gewoonte reeds by hulle gevestig is.

“Omdat ons studente die veld gereeld vir opleiding gebruik, het ons besluit om in te spring en die gebied op te ruim sodat die studente veilig kan wees, maar ook sodat die publiek wat gereeld daar stap, ’n skoner veld kan geniet,” sê sy.

“Die skoonmaak van die gebied het goed ingepas by ons eie tradisie en waardes.”

Basie sê daar word beoog om in die toekoms weer so ’n skoonmaaksessie aan te pak, en dan tot bo-op die kop skoon te maak.

“Die studente sal ’n volgende keer langer tyd daar spandeer sodat ’n nog groter area skoongemaak kan word.”

Log in with your credentials

Forgot your details?