Oudste Millenniumparker word ’n eeu

Bettie Barry (foto onder, in die rystoel) saam met haar familie, kinders, kleinkinders en agter­klein­kinders op haar 100ste verjaarsdag wat Saterdag by Millenniumpark op Oudtshoorn gevier is.  Foto: Higgo Jacobs

Deur Higgo Jacobs
DIE oudste inwoner van Millenniumpark op Oudtshoorn, Bettie Barry, het Saterdag haar 100ste verjaarsdag saam met 63 fa­mi­lielede, kinders, kleinkinders en agter­kleinkinders gevier.

Onder die familielede wat die vieringe bygewoon het, was vyf van Barry se ses kinders wat nog leef, sewentien klein-kinders en sewentien agterkleinkinders.

Een van haar skoonseuns, Gillie Gel­denhuys van Swellendam, is Saterdag­oggend voor die feesvieringe ná ’n lang siekbed oorlede.

Barry is op die familieplaas Salomons- vlei in die Paarl gebore as die vyfde van agt kinders. Sy het haar laerskooldae deurgebring by Klein Drakenstein Laerskool, en elke dag die afstand skool toe gestap.

Toe sy vir haar hoërskooljare na La Rochelle is, het sy elke dag met ’n perde-karretjie skool toe gery.  Sy het dit dan voor skool by die hoefsmid afgesaal en ná skool weer die karretjie en perd daar gaan haal.

Sy het ná skool die graad BSc cum laude aan die destydse Universiteitskollege op Wellington behaal.

Sy was daar voorsitter van die studenteraad en het ook Bolandkleure in hokkie verwerf.

Haar eerste onderwyspos was by die Hoërskool Hottentots Holland waar sy twee jaar biologie onderrig het.
Nadat sy twee jaar lank reisende sekre-taresse van die ACSV was, het sy op 8 Januarie 1944 met Richard van Reenen (Dick) Barry, ’n prokureur van Calitzdorp, getrou.

Die prokureursfirma Barry & Mouton is reeds in 1908 deur Dick se pa, Richard van Reenen Barry, op Calitzdorp gestig en is vandag een van die oudste proku-reursfirmas in die omgewing wat nog in bedryf is.

Haar man (Dick) is ses maande nadat hulle hul sestigste huweliksherdenking gevier het, oorlede.

Barry het in 2011 weens swak gesondheid van Calitzdorp na Millenniumpark op Oudtshoorn verhuis.

Die Barrys, ’n merkwaardige familie met baie sterk familiebande, trek jaarliks in Desember saam in Glentana buite George waar hulle verskeie eiendomme in Barrystraat besit.

Log in with your credentials

Forgot your details?