‘Ons moet anders begin dink oor waar ons bly’

Moenie ingewikkeld raak nie, sê omgewingsman

Katot Meyer van Oudtshoorn by die Cape Fox-bewaringstoekenning wat hy ontvang het vir die bestuur van die Pietersfontein Natuurreservaat, waar hy belangrike bewaringsbeginsels toepas. Foto: Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux
“MENSE moenie goed ingewikkeld doen nie. Elk­een kan ’n klein bydrae lewer om die omgewing te bewaar,” sê die bekende Oudtshoorniet en omgewingsliefhebber, Katot Meyer.

Meyer se metodes en uitkyk het daartoe gelei dat hy einde verlede jaar deur Conservation at Work in die Wes-Kaap bekroon is met die Cape Fox-toekenning vir die bes bestuurde privaat-natuur­reservaat. Dié Pietersrivier Natuurreservaat is 5 km wes van

De Vlugt op die Prins Alfredpas tussen Uniondale en Knysna geleë en was oorspronklik ’n veepos. Dit is al dekades in die besit van die Meyer-familie.

Wat die inwoners van Oudtshoorn nie besef nie, is dat hulle ook in ’n reservaat woon, sê Meyer.
Die hele Klein Karoo val in die Gouritsgroep Biosfeerreservaat – die enigste biosfeer in die wêreld waar die fynbos, vetplant-Karoo en subtropiese ruigteveld voorkom.

“Ons almal in Oudtshoorn moet leef soos mense wat in ’n reservaat woon. Ons moet ons dorp en erf bestuur soos mense wat in ’n reservaat woon. Ons is bevoorreg, ons hoef nie ’n reservaat te soek om daar te gaan woon nie. Dit het na ons toe gekom.

“Ons moet onsself afvra; Hoe leef ons in dié reservaat? Hoe moet dit ons gedragskode verander?

“Ons moet inheemse bome plant vir suurstof en vir die voëls.

“Ons moet eerder kyk hoe stadig ons hier kan ry as hoe vinnig ons iewers heen kan jaag.”

Meyer sê deur eenvoudige, praktiese dinge te doen, kan mense ’n groot verskil maak.

“Die KKNK se navorsing sê mense kom na die fees toe vir die omgewing waar dit plaasvind. Ons moet dit onthou. Gister was ek in Birdstraat en ek sien geen boom op ’n sypaadjie waar ek staan nie; en so lyk baie strate in die dorp. Toe dink ek, as daar elke jaar met die KKNK ’n kort geleentheid is waar inwoners en ’n bekende kunstenaar net tien bome in een straat plant, kan dit ’n lewende nalatenskap van die fees word.

“Dink net as daar 25 jaar gelede toe met die fees begin is, elke jaar net tien bome geplant was, hoe sou die dorp nie nou al gelyk het nie!

“Kry ’n kunstenaar wat bereid is om betrokke te raak, laat inwoners van die straat die verantwoor­delikheid vir die bome aanvaar. Die volgende jaar kan die kunstenaar kom kyk hoe dit met die bome gaan. So voel inwoners dan ook deel van die fees en dra hulle by tot hulle dorp.”

Hy sal graag wil sien dat skole betrokke raak deur vullisdromme te verf vir die gebruik van glas, papier en plastiek en kinders so by die skool laat begin met herwinning.

“In die KKNK kan dié mooi geverfde dromme by die skole geleen word en op die feesterrein staan sodat feesgangers kan begin om hul glas, papier en plastiek apart weg te gooi.”

Meyer het ook ’n antwoord vir sigaretstompies.

Hy gooi alle sigaretstompies wat hy teëkom, in ’n klein vrugtesapbotteltjie met water.

“Die stompies beland dikwels deur reën of op ander maniere in die riviere waar dit die water met nikotien vergiftig. Daardie water vloei verder en beland uiteindelik in die Gouritsrivier.

“Ons moet anders dink. Dit is so eenvoudig. Sorg byvoorbeeld net dat jy iets in jou kar het waarin jy vullis kan gooi sodat jy nie nodig het om dit by die venster uit te gooi nie.

• Die Cape Fox-toekenning
Meyer vertel soos volg oor die Pietersrivier Natuurreservaat waarvoor hy bekroon is:
Die Meyers van die Langkloof het veeposte in die Middel-Keurboomsriviergebied gehad wat tot vandag in die familie oorgebly het. Meer boere het vee begin aanhou wat veroorsaak het dat biodiversiteit en weiding agteruitgegaan het. Die Meyers het begin kampe maak vir beter veldbestuur en hoofsaaklik groot vee aangehou wat ooreenstem met die natuurlike veldbenutting deur die vroeëre bergsebra, eland en buffel. Na 50 jaar se veeboer­dery was die biodiversiteit nog goed genoeg dat CapeNature ’n voogdyskap-reservaat goedgekeur het.

Die natuurreservaat word met ’n lae voetspoorbenadering bestuur. So betaal ’n besoeker met ’n fiets en tent minder as iemand met ’n 4X4-voertuig met ’n karavaan. Daar is verskeie privaatkampe met staproetes van 3 tot 6 kms. Die Burchell-ossewaroete van 20 km kan as oornagroete gestap word met oornag in inheemse woudkloof. Hardlooproetes in die natuurreservaat van 5, 10 en 21 km is gemerk in die gees van die vroeëre hardlo­pers wat briewe moes aflewer! Die aanwysers is in die vorm van ’n koevert wat die roete aandui. Die trekroete kan ook met ’n moderne wa aangedurf word, mits jy vorige ondervinding het.

Die reservaatkode vereis dat alles wat ingebring word, weer uitgeneem word – sigaretstompies ingesluit. Meyer sê behalwe dat dit die regte ding is om te doen, hou dit die bobbejane waar hulle hoort – daar waar die luiperd hulle nog vroegaand voorlê.

Die drie katspesies en sewe fynbos-boksoorte floreer in die reservaat, wat ’n natuurlike balans vorm en die luiperd doen sy rondtes en hou sodoende die berugte rooijakkals (alias skaapvanger) uit die gebied.

Danksy ’n finansiële bydrae van Conservation at Work is begin met ’n waterbalansprojek wat herwinde water van 6 kubieke meter per maand aan 360 huise in die Bitou Munisipaliteit lewer. Elke keer wanneer ’n gedeelte van die opvangsgebied gerestoureer word, vloei ekstra water in die stelsel in.

Die Pietersrivier-reservaat vorm nou ’n kernarea saam met ander privaatreservate, CapeNature en SAN Parke in die onlangs verklaarde Tuinroete Biosfeer Reservaat wat strek van George langs die Outeniqua-, Langkloof- en Tsitsikammaberge tot by

Jeffereysbaai met die Indiese Oseaan die suidelike grens.
Meyer sê die fokus bly volhoubare ontwikkeling sonder dat die biodiversiteit van die gebied ten gronde gaan. “Die mens se houding teenoor die omgewing sal die deurslag gee,” sê hy.

Ek is Oudtshoorn

‘Ons almal in Oudtshoorn moet leef soos mense wat in ’n reservaat woon. Ons moet ons dorp en erf bestuur soos mense wat in ’n reservaat woon. Ons is bevoorreg, ons hoef nie ’n reservaat te soek om daar te gaan woon nie. Dit het na ons toe gekom.’ – Katot Meyer

Log in with your credentials

Forgot your details?