Natuur ingespan om so ’n verskil te maak in mense se lewens

Desmond Sauer wat ’n natuurlike verskil maak in die Zoar-omgewing. Foto: Deon Meyer

Deur Deon Meyer
Hoe die natuur en die mens in die Zoar-omgewing saamwerk om ’n verskil te maak is werklik prysenswaardig.

Dit is wat Desmond Sauer, ’n oud-onderwyser, in Seweweekspoort reggekry het met sy Waterval Eco Farmstay. Die gemeenskap se betrokkenheid is ’n integrale deel van hierdie projek.

Sauer bied Saterdag om 15:00 ’n Concert in the Little Karoo by die Eco Lodge aan met Steve Newman en The Mad Hatters. Die Eco Lodge is sowat 700 meter op die Seweweekspoortpad geleë. Hier gaan gaste onder die Karoolug onthaal word met die opbrengs van die “musiekfees’ wat in die gemeenskap teruggeploeg sal word. Die musiekfees sal ook gebruik word om mense vaardighede aan te leer.

’n Opgewonde Sauer vertel: “Die lodge se meu­bels is eenhonderd persent gemaak deur die ge­meenskap van Zoar. Hulle tuisgemaakte produkte word ook hier verkoop. ’n Spekboom-kwe­kery en organiese tuin word deur plaaslike tuinkun­diges bedryf en gebruik. Ons doen egte ruilhandel. Ons ruil ons produkte uit in die gemeenskap en voorsien ook organiese groente aan die gemeenskap.”

Sauer se droom is om “nog groter te gaan”!

“Werkskepping is een van ons oogmerke. Ons wil die gemeenskap ander vorms van ontspanning aanbied soos joga, en die natuur inspan om die verskil te maak. Ons fokus is volwassenes en senior burgers.”
Sauer se sel is 072 205 5632.

Log in with your credentials

Forgot your details?