Koos maak hier skoon

Koos Blaaw, ’n inwo­ner van Oudtshoorn, besig met sy dagtaak – om hope rommel te verwyder uit die oop gebied tussen Grysbok- en Opperman­straat in Bridgton so­dat die gebied beter kan lyk.

Een van die vullisbakke op die oop stuk grond wat Koos Blaauw skoonmaak.
Foto’s: Ebenezer Titus

HY maak al vier jaar die groot oop stuk grond tussen Grysbok- en Oppermanstraat in Bridgton skoon omdat hy wil hê die gebied moet netjieser lyk, vertel Koos Blaaw.

Die oop stuk grond is vir baie inwoners van die omgewing ’n plek waar hulle hul vullis stort. Blaaw, wat ook in die omgewing woon, hark dié vullis bymekaar en gooi dit dan in sakke of ’n drom of enige houer wat hy in die hande kan kry.

Daarna dra hy die vullis na een van drie groot vullisbakke wat die munisipaliteit in die gebied geplaas het. Die munisipaliteit verwyder die vullis op gereelde basis uit die vullisbakke.

Hy weet nie van enigiemand anders wat so ’n groot gebied alleen skoonhou nie, vertel Blaaw Maandag met trots aan Die Hoorn.

Hy vertel dat hy oor die jare hoofsaaklik as vrywilliger in die gebied werk. “Ek moet self alles voorsien.

Ek het nog nooit ’n uniform of handskoene gehad of sakke gekry nie.”

Tans het hy egter ’n tydelike kontrak van drie maande met die munisipaliteit, iets waaroor hy baie dankbaar is. Dié kontrak loop einde Junie ten einde.

Log in with your credentials

Forgot your details?