Itemba Skuiling vir haweloses vra hulp van die publiek

Jominia Weyers, en Tom Johnson by die ingang van die Itemba Skuiling in Jubileestraat. Foto: Higgo Jacobs

DIE Itemba Skuiling vir hawelose mense wat in April 2018 deur die Wes-Kaapse Minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Albert Fritz, in Jubileestraat op Oudtshoorn geopen is, het die publiek se ondersteuning nodig om in die huis se daaglikse behoeftes te voorsien.

So sê Tom Johnson, voorsitter van die nuwe bestuurskomitee wat tans omsien na die bestuursake van die inrigting. Dié huis waarin hawelose mense gehuisves word, behoort aan die Oudts-hoorn Munisipaliteit.

Die skuiling is een van vele wat tans in die Wes-Kaap geregistreer is en wat omsien na die behoeftes van hawelose mense in die provinsie.

Tydens ’n besoek van Die Hoorn verlede week aan die inrigting het Johnson gewys op die karige toerusting, soos ’n tweeplaatstofie waarop daagliks vir sowat 13 mense kos voorberei moet word.

Verkoelingsgeriewe en ander noodsaaklike toerusting om ’n huishouding suksesvol te bedryf, ontbreek ook.

Johnson sê hy kan die publiek die versekering gee dat die huidige bestuurskomitee hulle verbind het tot die deursigtige en verantwoordelike bestuur van die huis se sake. Hy het inwoners genooi om die huis te kom besoek en hulle te vergewis van behoeftes.

Daar is tans 18 beddens vir hawelose mense beskikbaar. Hawelose mense uit alle gemeenskappe word hier gehuisves met die langtermyndoelwit om hulle weer te verenig met hul families en te herintegreer in die gemeenskap. Dié doelwit word ondersteun deur organisasies soos die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling en Famsa. Indien nodig word mense ook na relevante inrigtings vir nodige rehabilitasie verwys.

Johnson het die gemeenskap genooi om betrokke te raak deur maaltye te borg, lidmaatskap van die inrigting te bekom deur ’n geringe fooi te betaal, of selfs ’n bed per maand te borg. Meals on Wheels verskaf tans twee maaltye per week per persoon waarvoor die bestuurskomitee baie dankbaar is.

“Ons bestuur beplan ook ’n groentetuin en ’n vaardigheidsprojek, maar hiervoor het ons die nodige toerusting nodig. Dié projekte het ook ten doel om inwoners uiteindelik weer terug in die gemeenskap te plaas en hulle te help om’n menswaardige bestaan te voer,” sê Johnson.

Mense tussen die ouderdomme van 18 en 59 jaar word ingeneem en die bestaande huisreëls word streng toegepas.

Vir meer inligting kan Johnson gekontak word by 071 547 0514 of die maatskaplike hulpwerkster, Jominia Weyers, by 072 953 6587.

(Deur Higgo Jacobs)