Huisdroom word waar

Raadslid Henry Tyatya en Buyiswa Stuurman Vrydag by die oorhandiging van haar huis in Oudtshoorn. (Foto verskaf.)

VIR Buyiswa Stuurman van Bongolethu het ’n droom verlede Vrydag waar geword toe sy ’n vierslaapkamerhuis met meubels ontvang het.

Stuurman wat rolstoelgebonde is, het jare lank gedroom van ’n ordentlike huis vir haar en haar twee kinders.

Haar nuwe huis is aan haar oorhandig deur die adjunk-voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies (NRVP), Raseriti Tau, en die adjunk-minister van Menslike Nedersettings, Zou Kota.

Tau het gesê dié oorhandiging was ’n oomblik van opwinding na ’n lang pad wat op ’n reënerige dag in 2015 begin het toe die NRVP Bongolethu besoek en Stuurman hulle vertel het van haar pynlike lot sonder voldoende skuiling wat rolstoel­vriendelik was. “Nadat ons na mevrou Stuur­man geluister het en die swak toestand van haar rolstoel gesien het, het ons besef haar situasie is spesiaal en het ons ons daartoe verbind om vir haar ’n ordentlike huis te verseker.”

Tau het Stuurman se situasie onder die aandag gebring van verskeie rolspelers soos die Departement van Menslike Nedersettings.

Tau het Vrydag almal bedank wat dit moontlik gemaak het dat Stuurman en haar kinders die huis kon kry.

Stuurman het gesê die NRVP en Tau in besonders is soos die Bybelse Samaritaan.

“Ek beskou die ingryping van die NRVP as goddelik. ’n Geskenk van ’n huis is nie iets klein nie. Dit is baie groot. Ek kan nie in woorde verduidelik hoe ek voel nie,” het ’n emosionele Stuurman gesê.

Log in with your credentials

Forgot your details?